Hennie en Amanda Lombard, ‘n egpaar wat woon in Parow Senior Sentrum, ‘n program van Badisa, is ‘n egpaar wat die hartseer van verlies ken en wat weet wat dit is om te veg vir oorlewing. Hulle deel hul verhaal en die uiteindelike vrede wat hulle gevind het.
Die Lombard’s woon al twee jaar by Parow Senior Sentrum, waar hulle hul dae deurbring in die geselskap van ander inwoners. “Hierdie jaar, September, woon ons al twee jaar hier,” sê Amanda.
“Ons het mekaar in ‘n hysbak in Sederhof, Pretoria ontmoet, en ons is nou al 47 jaar getroud en het drie volwasse kinders en vier kleinkinders,” vertel sy.
“Ons is ‘survivors’”
Amanda was in 1993 wreed aangeval en sewe keer met ‘n mes gesteek en het by die dood omgedraai. Kort daarna was Hennie ‘n slagoffer van ‘n gewapende bankroof. Ná hierdie traumatiese voorvalle het hulle Kaap toe verhuis om oor te begin.
“Ek is daar deur, want ek het my kinders voor my gesien.”
Met die gesin se aankoms in die Kaap, het hulle ‘n pizza restaurant gekoop en bestuur, maar was min by hul kinders en het besluit om die onderneming te verkoop. Hennie is daarna terug bankwese toe en Amanda het weer as IT bestuurder in die korporatiewe werksomgewing werk gekry. Toe albei egter na ‘n tyd hul werke verloor het, het hulle ‘n swembad besigheid begin, waar Hennie die installasies gedoen het en Amanda die verkope.
Hennie vertel, “Ons het hard gewerk en vir 17 jaar het ons in die swembadbedryf sukses behaal. Toe het dinge verander. Ek onthou dit nog goed. Ons het begin sukkel as gevolg van die 2017/2018 droogte en uiteindelik moes ons die besigheid sluit. Ons het egter vir vyf jaar daarna aangehou en oorleef voordat ons ons huis verloor het.” “Dit was moeilik,” onthou Amanda.
“Ek het wéér alles verloor”
Die verlies van hul bakkie, wat al hul swembad onderneming se gereedskap bevat het, was die laaste knou.
“Ons het alles verloor,” vertel Hennie. “Ons het ons huis verloor, en op ons ouderdom kon ons nie meer werk kry nie. Ek het toe weer probeer om werk te kry, maar ek het gesukkel, en my swak gesondheid het ook nie gehelp nie.”
“Om ‘n inkomste te genereer, het ek toe probeer om eiendomme te verkoop. Daar het katarakte in my oë ontwikkel wat veroorsaak het dat ek nie meer kon sien nie. Dit was moeilik, maar toe het ek die storie van Jesus onthou, wat ‘n blinde man laat sien het. Geloof in God is alles.”
“Maar, toe kom die Here deur”
Amanda vertel, “ “Eendag het ‘n wit Mercedes by ons huis gestop. En ek sê toe, maar wat gaan nou hier aan? En toe klim ons seun uit die kar en sê, “Mamma, jy wou nog altyd ‘n wit Mercedes gehad het. Dit het die herstel gebring wat ons nodig gehad het.”
‘n Nuwe begin
Amanda vertel, “nadat dit alles gebeur het, het ons besef ons moet weer aan die gang kom. Ons dogter sê toe ons moet ‘n draai gaan maak by ‘n groot pakhuis wat allerhande goedere vir goedkoop verkoop. Daar het ons lugbevogtigers, ligte, en sulke goed gesien. Dit het goed gewerk vir ons, veral met beurtkrag, en toe besluit ons om dit by markies te begin verkoop.”
“Tans verkoop ek parfuum en juweliersware, wat ek by my skoondogter gekry het. Dit gaan goed met die verkope.”
“Ons het nie baie geld nie, ons kry net SASSA. Dis dit. Ons wil nie ons kinders om geld vra nie, ons wil eerder onafhanklik wees. Die markie verkope gee ons ‘n bietjie ekstra geld om ons kleinkinders te besoek en om soms ‘n lekker bederfie te koop. Buitendien, ons kan nie heel dag in ons kamer sit nie, ons sal mal word.”
Stokperdjies verskaf vreugde
Hennie vertel, “My stokperdjie is bonsaibome, ek versamel seëls en ek het ontdek dat ek kan skilder. Dit is so lekker.”
“Een jaar, op Vadersdag, het ons seun vir my ‘n boks met wurms gegee om te gebruik vir my bonsaibome. Ek het toe met die wurms begin teel, en ek het later soveel gehad dat ek dit op Facebook Marketplace geadverteer het, en so het ek hulle begin verkoop.”
“Toe ons na Parow Senior Sentrum verhuis het, het ek vir hulle gesê ek gaan my wurmplaas saambring. Die mense wat hier woon, het my in die begin vreemd aangekyk. Ek het nou al vier wurmplase.”
“Ek skilder ook graag. Mense koop selfs my skilderye, en ek kan dit skaars glo. Vir my is dit goeie terapie. Wanneer ek teken, dan fokus ek my gedagtes en ontspan. Wanneer mens gespanne is, kan skilder jou help om weer kalm te raak. Ek skilder landskappe en seestukke. Dit hou my besig, en ek voel asof ek in ‘n ander wêreld is.”
Om ‘n naaste te wees vir ander
By Parow Senior Sentrum, help almal mekaar. Amanda vertel, “Ek en Hennie kom goed oor die weg met almal, en dit is vir ons belangrik om vriendelik te wees. As daar iets gereël moet word, is ons altyd betrokke. Of dit nou vir ‘n funksie of vir iets anders is, ons steek altyd ons hande op om te help.”
Hennie voeg by, “Ek het vroeër fisies meer gedoen, maar nou sukkel ek met longprobleme. Maar ek help nog steeds waar ek kan. Al kan ek nie fisies alles doen nie, probeer ek my deel doen.”
Amanda is deel van die dames breigroep by Parow Senior Sentrum. Sy vertel, “ons is drie vroue wat elke middag bymekaar kom. Soms brei ons, soms eet ons net saam. Dit is ons manier om vir liefdadigheid te werk en terselfdetyd te ontlaai. Ons kuier, en ons gesels om net bietjie te ontspan.”
“Ons brei vir die pasgebore babas van verskeie hospitale in die area – Tygerberg, Karl Bremer, Rooi Kruis, en Worcester. In die winter maak ons hoedjies, en in die somer maak ons poppe vir Kersfees. Verlede jaar het ons 480 poppe gemaak en geskenk.”
Oop hande en warm harte
Interaksie met mense is vir die egpaar verskriklik belangrik, en een van die aspekte wat hulle die meeste geniet by Parow Senior Sentrum. “Ons kon nog nooit stil sit nie,” vertel Amanda.
“Om fondse in te samel vir die sentrum, hou ons baie danse en bingo aande vir die publiek en dis baie suksesvol.”
“As ons nie besig is met fondsinsamelings nie, hou ons soms ’n pannekoekdag. Dan kom almal bymekaar, en ons speel musiek en dans saam, selfs om 10 uur in die oggend.”
“Parow Senior Sentrum is vir ons ‘n veilige hawe”
Amanda vertel, “Die sentrum bied vir ons ’n dak oor ons kop, ons kry vyf etes per week, en ons voel veilig hier. Op ons ouderdom hoef ons nie meer te bekommer oor die sekuriteitskwessies wat met ’n eie huis gepaardgaan nie. Ek en Hennie het al te veel trauma in ons lewe beleef, en daarom is ons so gefokus op veiligheid.”
“Hier kan ons besig bly en met mense omgaan. Ons hoef nie meer rond te jaag nie, en ons het die vryheid om vir ons kinders te gaan kuier wanneer ons wil.”
Die egpaar sluit af met ‘n boodskap van bemoediging vir ander bejaardes. “Bly gesond, luister na jou dokter en drink jou bloeddruk pille. Bly besig. Moenie as jy aftree die dag voor die TV gaan sit en niks doen nie.”
“Jou geloof is so belangrik,” voeg Hennie by. “Kweek ‘n gewoonte om interaksie met ander mense vol te hou. Terwyl ons nog op aarde is, moet ons mekaar ondersteun.”
Kontak Estelle Pretorius by bestuurder@parowseniors.co.za of skakel 021 930 3702 om meer uit te vind oor Parow Senior Sentrum.