“2026 is nogal ‘n lekker jaar vir my. Dit is die jaar waarin ons mekaar as kollegas beter leer ken het, nuwe dinge saam begin ervaar het en baie keer lekker uit ons gemaksone geruk is, net om daarna te besef: ons kón dit doen!”

Só vertel Maryna Klein, programbestuurder by Sonskyn Dagsorgsentrum in Caledon, ná die onlangse National Curriculum Framework (NCF)-opleiding wat sy saam met opvoeders en programbestuurders van verskeie Badisa-dagsorgsentrums bygewoon het.

Die praktiese opleidingsessies is aangebied deur Ria Fourie, programbestuurder by Uit en Tuis Crèche in Goodwood, een van Badisa se dagsorgsentrums. Die opleiding het deelnemers toegerus met praktiese vaardighede om die Nasionale Kurrikulumraamwerk in hul klaskamers toe te pas, met ‘n sterk fokus op spelgebaseerde leer en die holistiese ontwikkeling van jong kinders.

“Die NCF gaan nie net oor wat kinders leer nie, maar hóé hulle leer,” verduidelik Ria. “Wanneer kinders deur spel ontdek, ondersoek en eksperimenteer, ontwikkel hulle selfvertroue, probleemoplossingsvaardighede, kommunikasie en kreatiwiteit. Dit is hierdie beginsels wat ons prakties saam met die opvoeders ingeoefen het.”

Vir Badisa is sulke opleidingsgeleenthede veel meer as net kursusse. Dit is ‘n belegging in mense wat elke dag die verantwoordelikheid dra om die grondslag vir ‘n kind se toekoms te help lê. Wanneer ons ons opvoeders toerus, word die impak uiteindelik in elke klaskamer en in elke kind se lewe sigbaar.

Saam met haar kollega Wendy Kotzee van Sonskynvallei Dagsorgsentrum in Hartenbos het Ria vanjaar reeds verskeie opleidingsgeleenthede bygewoon. Die twee deel ‘n passie daarvoor om kennis prakties oor te dra sodat opvoeders met nuwe selfvertroue na hul sentrums kan terugkeer.

Nog iets waarna die dagsorgsentrums uitsien, is die bekendstelling van hul eie Pause and Peace-hoekies. Danksy die fondsinsameling wat vroeër vanjaar gehou is, sal elke klaskamer in Badisa se dagsorgsentrums gedurende die tweede helfte van die jaar oor so ‘n hoekie beskik. Hier sal jong kinders op ‘n veilige, kreatiewe manier leer om hul emosies te herken, te verstaan en gesond te verwerk.

“Dit maak my ongelooflik opgewonde,” sê Wendy. “Ons was die afgelope twee jaar een van die loodsskole waar die Pause and Peace-hoekies ontwikkel en getoets is. Om nou te sien hoe dit na al ons dagsorgsentrums uitgerol word, beteken dat nog baie meer kinders die geleentheid gaan kry om emosionele veerkragtigheid van kleins af te ontwikkel.”

By Badisa glo ons dat groei begin by mense wat bereid is om aan te hou leer. En wanneer ons in ons kollegas belê, belê ons ook in die duisende kinders wat elke dag deur ons programme die beste moontlike begin in die lewe ontvang.