GEREGISTREERDE/PROFESSIONELE VERPLEEGKUNDIGE
Herfsvreugde Tehuis is ‘n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en die VGKSA (Kaapland).
Aansoeke word ingewag van ‘n entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde Geregistreerde/Professionele Verpleegkundige met ‘n passie vir die versorging van ouer persone. Ons soek ‘n persoon met ‘n langtermyn visie wat bereid is om hom/haar in Bonnievale of die onmiddellike omgewing te vestig en saam met Herfsvreugde se sorg dienste te groei en ontwikkel.
MINIMUM VEREISTES
- Registrasie as Professionele Verpleegkundige by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV/SANC).
- Geldige professionele vrywarings versekering.
- Goeie kennis van die fisiese, psigiese en emosionele versorgingsbehoeftes van ouer persone.
- Kennis van toepaslike wetgewing, norme en standaarde binne bejaardesorg en verpleegkundige praktyk.
- Deeglike kennis van medikasie bestuur, insluitend geskeduleerde medikasie, voorraadbeheer, blister-verpakking en kontrolemaatreëls.
- Kennis van infeksie voorkoming en -beheer, wond versorging, kliniese observasie en risikobestuur.
- Goeie administratiewe, rekenaar- en verslagdoening vaardighede.
- Goeie mondelinge en skriftelike kommunikasievaardighede in Afrikaans en Engels.
- Bereidwilligheid om skofte, naweke, openbare vakansiedae en, waar nodig, na ure te werk.
- ‘n Geldige bestuurslisensie sal voordelig wees.
- Ervaring in bejaardesorg, hoë sorg, tuisversorging of gemeenskapsgebaseerde sorg sal in die kandidaat se guns tel.
KERNVERANTWOORDELIKHEDE
- Identifisering, beplanning, implementering en evaluering van inwoners se verpleeg- en versorgingsbehoeftes.
- Versekering van professionele, etiese en menswaardige sorg volgens toepaslike wetgewing, beleide en prosedures.
- Veilige bestuur, toediening, kontrolering en dokumentering van medikasie.
- Kliniese toesig, gehaltebeheer en die handhawing van aanvaarbare verpleegkundige standaarde.
- Leiding, ondersteuning en toesig aan verpleegpersoneel en versorgers.
- Deelname aan diensroosters, personeelbestuur en die ontwikkeling en toepassing van beleide, prosedures en protokolle.
- Akkurate rekordhouding en skakeling met inwoners, families, mediese praktisyns en ander diensverskaffers.
- Positiewe deelname aan die instelling se toekomstige ontwikkeling en digitalisering van verslagdoening.
INTERNE OPLEIDING
Interne opleiding en personeelontwikkeling vorm ‘n belangrike deel van hierdie pos. Die suksesvolle kandidaat moet bereid wees om opleidingsbehoeftes te identifiseer; praktiese opleidingsessies te beplan en aan te bied; personeel te mentor, begelei en evalueer; en deurlopende professionele ontwikkeling en verantwoordbaarheid te bevorder.
PERSOONLIKE EIENSKAPPE
Die ideale kandidaat beskik oor sterk leierskap-, organisasie- en menseverhoudings vaardighede. Hy/sy moet professioneel, betroubaar en verantwoordbaar optree, met deernis en respek teenoor ouer persone werk en verandering, tegnologiese ontwikkeling en nuwe werkmetodes positief benader.
VERGOEDING EN DIENSVOORDELE
Vergoeding sal volgens die toepaslike Badisa-salarisskaal en die kandidaat se kwalifikasies en ervaring bepaal word. Diensvoordele sluit ‘n pensioenfonds, mediese fonds en verlofvoordele in, onderworpe aan die toepaslike diensvoorwaardes.
AANSOEKPROSEDURE
Aansoeke moet ‘n volledige en opgedateerde CV, minstens drie kontakbare verwysings en gesertifiseerde afskrifte van die aansoeker se identiteitsdokument, kwalifikasies, geldige SARV/SANC-registrasie en bestuurslisensie (indien van toepassing) insluit. ‘n Geldige polisieklaring sertifikaat, of bewys dat daarvoor aansoek gedoen is, word ook vereis.
Stuur aansoeke aan: Die Program Bestuurder, Herfsvreugde Tehuis
E-pos: manager@herfsvreugde.co.za Navrae: 023 616 2170
SLUITINGSDATUM: 26 OKTOBER 2026
DIENSAANVAARDING: So spoedig moontlik of soos onderling ooreengekom.
* Herfsvreugde Tehuis behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie. Slegs kandidate wat vir ‘n onderhoud genooi word, sal gekontak word. Indien u nie binne twee weke na die sluitingsdatum terugvoering ontvang nie, kan u aanvaar dat u aansoek onsuksesvol was.