Deur Adrie Jurgensen
Direkteur: Kommunikasie, Bemarking en Vennootskap, Badisa

Van Cobus Kershoff weet ek al lank. Baie lank. Dekades!

Ek het die groot voorreg gehad om jare gelede saam met sy suster, Ina Viljoen, te werk. Ek onthou Cobus het ’n kunsgalery in Hermanus bestuur, en ek dink ons was dalk selfs eenkeer daar. Hermanus en Kershoff is vir my amper sinoniem.

Nou, dekades later, is Ina een van Badisa se wonderlike vrywilligers.

Toe ons kunstenaars vir Kleur jou Wêreld begin soek, het hy dadelik ingestem toe ons hom vra! En wat ’n perfekte keuse vir Oktober se turquoise en respek.

Cobus is in 1962 in Ceres gebore en het van kleins af sy inspirasie in die natuur gevind. Hy het later in plekke soos Botrivier en Villiersdorp gewoon en sê die Overberg se landskappe, plaaslewe, veldblomme, berge en voortdurend veranderende lugruim bly ’n groot invloed op sy werk. Die Klein Karoo, met sy ryk kleure en verre horisonne, het hom ook diep geïnspireer.

Wanneer ek vir Cobus vra hoekom hy verf, antwoord hy op ’n manier wat eintlik baie mooi opsom wie hy as kunstenaar is:

“’n Mens wat met sy hande werk, is ’n arbeider. ’n Persoon wat met sy hande en sy verstand werk, is ’n vakman. ’n Persoon wat met sy hande, sy verstand en sy hart of siel werk, is ’n kunstenaar.”

Vir hom gaan kuns oor meer as om iets mooi op doek te sit. Dit gaan oor kyk. Om die natuurlike en soms abstrakte lyne, beweging, lig en skakerings raak te sien. Om kleur te gebruik om ’n emosie vas te vang.

En miskien is dit juis daarom dat Oktober se tema van respek so mooi by Cobus pas.

Wanneer ek hom vra wat respek vir hom beteken, sê hy:

“Dit is ’n waardigheid teenoor jouself en jou medemens, die natuurlewe en die skepping. Jy eer jouself en jou medemens op die wyse wat jy behandel wil word.”

Dit is ’n eenvoudige definisie, maar een wat veel verder strek as net hoe ons mekaar behandel. Dit sluit die natuur, diere en die hele skepping in. En dalk verduidelik dit ook iets van die manier waarop Cobus kyk – met aandag, waardering en ’n bereidheid om die mooi raak te sien.

En dan is daar turquoise.

Cobus beskryf turquoise, aquamarine en seegroen as kleure wat ’n besondere gevoel van kalmte en sielsvrede bring.

Dit maak sy groot seetoneel wat nou in Badisa se hoofkantoor hang, só gepas. Die doek is omtrent 1,5 m by 2 m, groot genoeg om jou behoorlik in te trek. Jy kan amper die beweging van die water voel.

Cobus glo sterk dat kreatiwiteit nie bloot ’n talent is nie. Dit is ’n manier van kyk en benader. ’n Bereidheid om te speel, te eksperimenteer en iets anders raak te sien.

Hy vertel selfs hoe ’n weggooiblikkie, iets wat vir iemand anders nutteloos is, in die hande van ’n kunstenaar ’n “object of art” kan word.

Dalk is dit wat ek die meeste van sy manier van kyk hou.

Hy werk hoofsaaklik met olieverf op doek en het oor jare ’n kleurvolle neo-realistiese/impressionistiese styl ontwikkel. Hy is ook bekend vir sy besonderse veerwerke op herwinde papier, ’n tegniek wat hy reeds van kleins af bemeester. Sy werk is vandag deel van private en korporatiewe versamelings hier en oorsee. Hy was ook vir meer as 25 jaar betrokke by kunsgalerybestuur en het deur die jare die voorreg gehad om tussen die werk van talle groot kunstenaars te leef.

Maar Cobus is nie net ’n kunstenaar nie.

Hy is ’n groot diereliefhebber, pas gereeld diere op en, volgens Ina, is hy ’n “ouboet 1000”.

So ja, hoewel dit my dekades geneem het om Cobus uiteindelik self te ontmoet, het ’n mooi familieverbintenis hom uiteindelik na Badisa gebring.

En ek dink dit is nogal besonders.

Want Cobus sê ’n kunstenaar kan met verskillende tale praat. Hy werk met sy hande, sy verstand en sy hart.

En miskien is dit hoekom sy kunswerk so goed by Badisa pas.

Want Badisa probeer ook elke dag met hande, verstand en hart werk. Stil, dikwels nederig, op voetsoolvlak, waar daar ’n behoefte is.

Cobus het vir ons ’n stuk van sy wêreld gegee.

En nou hang dit aan ons muur.

Turquoise. Die see. Kleur. En bowenal – respek.