
Badisa soek sy Plus50-supersterre!
Toe die nuus by Badisa uitlek dat daar ‘n talentkompetisie vir mense van 50 jaar en ouer is, het daar eers ‘n groot gelag deur die gange weerklink.
“Vyftig? Nee man… ons is mos nog bloedjonk!”
Maar nou is dit amptelik. As jy op 1 Augustus 50 jaar en een dag oud is, is hierdie die kompetisie waarvoor jy gewag het.
Dink aan dit as Suid-Afrika se eie weergawe van ‘n talentkompetisie waar ervaring, passie en sommer baie pret saamkom. Of jy nou die stem van ‘n nagtegaal het, jou voete nog behoorlik kan laat dans, stories vertel wat mense laat lag én huil, ‘n instrument bespeel, verfkwas swaai of jou eie liedjies skryf, hierdie is jou kans om te wys dat talent nie ‘n vervaldatum het nie.
En selfs al dink jy jou grootste talent is om ‘n bekfluitjie te speel dat die tannie onder in die gang se tone krul, of jy teken net stokmannetjies met besonder kreatiewe onderskrifte, wil ons steeds van jou hoor!
Badisa wil vanjaar behoorlik spore trap by die Andante Plus50 Talentkompetisie. Ons nooi al ons ouetehuise, dienssentrums én personeellede wat die 50-jaarmerk verbygesteek het om individueel of as groepe deel te neem.
“Ek hoor al klaar die verskonings: ‘Ek is te oud’ of ‘Ek was laas op ‘n verhoog op skool!’ By Badisa koop ons dit nie. Ek gaan self die verhoog aandurf met my AI-musiek, en ek daag sommer al my kollegas, inwoners en dienssentrums uit om saam te wys dat talent nie ‘n vervaldatum het nie. Kom ons wys Suid-Afrika dat ervaring steeds die beste verhoogmaat is!”
Ds Charl van Rensburg, Voorsitter van Badisa
Die kompetisie het verlede jaar as ‘n musiekkompetisie begin, maar het vanjaar uitgebrei na ‘n volwaardige talentkompetisie.
Kategorieë sluit in:
• Sang (soliste, duette en groepe)
• Instrumentale musiek
• Eie komposisies
• Storievertelling
• Drama
• Kuns
Deelnemers kan digitaal inskryf of, indien hulle verkies, by sekere lokale aan regstreekse oudisies deelneem.
“Ons nooi Badisa met ope arms om deel te wees van vanjaar se Andante Plus50 Talentkompetisie. Julle werk daagliks met mense wat inspireer, en ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat daar ongelooflike talent onder julle inwoners, lede en personeel skuil nie. Ons sien uit daarna om Badisa op die verhoog te verwelkom en saam te vier dat talent, kreatiwiteit en passie net ryker word met die jare.”
Cor Uys, organiseerder van die Andante Plus50 Talentkompetisie
Verlede jaar het sowat 200 deelnemers ingeskryf, die oudste deelnemer was 83 jaar oud, en die beoordelaars was verstom oor die gehalte van die talent wat na vore gekom het.
So, wat wag jy nog?
Moenie dat jou talent op die stoep bly sit nie. Trek daardie kitaar af, oefen weer daardie danspassies, haal die verfkwas uit of skryf daardie storie wat al jare in jou hart leef.
By Badisa glo ons dat talent, kreatiwiteit en lewenslus met die jare net mooier word.
Inskrywings sluit op 1 Augustus.
Vir meer inligting of om in te skryf, kontak Cor Uys by andanteplus50@gmail.com of 082 788 2736.
Kyk gerus die kompetisie video hier.
