
Kreatiwiteit is ‘n keuse.
Waar ons in haar ma se bont, vrolike sitkamer sit, is dit glad nie moeilik om te sien waar Anike Calitz se kreatiwiteit vandaan kom nie.
Die huis is ‘n kunswerk op sy eie. Lewensgroot. Helder. Onbeskaamd. Elke koppie, elke bakkie, elke mat en elke hoekie getuig van ‘n ma met ‘n oog vir skoonheid. Van die oomblik dat jy instap, roep kleur, tekstuur en patrone jou tegemoet.

Dis dieselfde taal wat die 20-jarige Anike praat.
Sy raak opgewonde wanneer sy oor Van Gogh en Klimt gesels, oor waterverf se eindelose moontlikhede en oor hoe teksture, kontras en patrone emosie kan skep. Sy het al byna elke medium onder die son probeer, van potlood en keramiek tot ink en waterverf, maar vir haar bly kreatiwiteit veel meer as verf op papier.

Sy is in 2006 in Amerika gebore, waarna haar gesin na Durbanville verhuis het. Sy beskryf haarself as ‘n huismens, daarom was dit ‘n groot stap toe sy verlede jaar haar tasse pak om Grafiese Ontwerp aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom te studeer.
Haar ouer broer, Rico, wat reeds in Potchefstroom studeer het en nou in sy vierde jaar is, het haar met stories van die studentelewe bekoor. Maar toe sy daar aankom, moes sy haar eie pad vind.
“Ek moes leer om ongemaklik te wees,” vertel sy.
Dit was nie altyd maklik nie. Soos baie eerstejaars het sy soms aan haarself en haar vermoë getwyfel. Juis in daardie stil groeityd het sy nader aan God beweeg. Sy vertel dat ‘n paar eenvoudige aanhalings haar deur haar eerste jaar gedra het:
“Be brave enough to be bad at something new.”
“You will not grow if you do not experience being uncomfortable.”
“Comfort kills more dreams than failure ever will.”
Saam met die belofte van 1 Petrus 5:7 en Deuteronomium 31:8 het hierdie woorde haar herinner dat groei selde gemaklik is.
Wanneer Anike oor inspirasie praat, dwaal haar gedagtes na Spanje en Italië, waar gesinsvakansies haar oog vir argitektuur, openbare ruimtes, patrone en teksture gevorm het. Sy sien skoonheid in besonderhede wat ander dikwels miskyk.
En dan natuurlik die voëls.
“Die beweging van vlerke, die patrone en die kleur van elke voëltjie maak my gelukkig.”
Dit is hierdie liefde vir kleur wat sy in Badisa se Julie in Oranje-veldtog ingebring het. Haar tema is kreatiwiteit, nie net as iets wat kunstenaars doen nie, maar as ‘n manier om na die wêreld te kyk.
“My agtergrond is blou,” verduidelik sy. “Ek het doelbewus met kleurteorie gespeel sodat die oranje voëltjie en blom uitstaan. Oranje is ‘n kleur van energie, warmte, hoop en kreatiwiteit.”

Vir haar is kreatiwiteit ‘n keuse.
“Jy hoef nie gebore te word as ‘n kunstenaar om kreatief te wees nie. Kreatiwiteit is iets wat jy oefen. Dis ‘n manier van leef.”
Daarom glo sy jongmense moet elke geleentheid aangryp om betrokke te raak.
“Jy weet nooit wie jou werk gaan sien, wie jy gaan inspireer of waar ‘n geleentheid vandaan gaan kom nie.”
Haar raad aan ander jongmense is eenvoudig:
“Wees dapper genoeg om iets nuuts te probeer. Wees oop vir groei. Moenie bang wees vir ongemak nie.”
Miskien is dit presies wat Julie in Oranje beteken.
Om jou eie oranje vlerke oop te sprei teen die blou agtergrond van die lewe, die patrone raak te sien wat God reeds besig is om te vorm, en met kreatiwiteit die wêreld ‘n bietjie mooier te kleur.
Die Amerikanertjie wat in Durbanville grootgeword het, is besig om Potchefstroom haar eie te maak.
En daarna?
Wie weet waar die volgende patroon, die volgende kleur of die volgende stukkie inspirasie haar gaan neem.
