Jak de Priester stap April binne met Courage / Moed en ’n kunswerk wat jou laat stilstaan… en kyk

Na meer as twee dekades in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, bly Jak de Priester ’n kunstenaar wat stories leef én vertel. Deur sy musiek, sy woorde en nou ook visuele kuns. Maar vir Jak gaan dit nog altyd oor een ding: mense.

Dis juis hoekom sy betrokkenheid by Badisa se Colour Your World veldtog so natuurlik voel. Ná Maart se tema van Omgee, waar hy die hart van Kuumba dra, stap hy nou April binne met Courage / Moed en ’n kunswerk wat jou laat stilstaan… en kyk.

Jak is nie net ’n storieverteller op verhoog nie, hy het ook Badisa se Kuumba-inisiatief se hartklop help verwoord deur die lied “Jy is Special”. Hierdie lied, geskryf eksklusief vir Badisa, is geïnspireer deur sorg, kreatiwiteit en gemeenskap en dra die boodskap dat elke kind gesien, gewaardeer en beskerm moet word. Dis meer as net ’n lied; dis ’n oproep tot aksie. Soos Kuumba self, bring dit mense bymekaar om kwesbare kinders regoor Suid-Afrika te beskerm en te ondersteun. En dit is die kern van Badisa, maatskaplike dienste wat met respek en deernis aangebied word deur passievolle personeel.

Teen hierdie agtergrond kry sy April-kuns nóg meer betekenis.

Sy skildery is swart, met rooi blokke en wit rame, en is nie tradisioneel nie. Dis eerlik. Die swart dra die gewig van ’n wêreld wat soms hard en onveilig voel. Die rooi? Dis aksie. Dis energie. Dis moed. “Die kleur rooi is ’n baie aktiewe kleur,” sê Jak. “’n Kleur van aksie… en natuurlik, moed.”

En dan die wit rame wat soos vensters uitstaan.

“Ons moet die wêreld deur mekaar se vensters begin sien,” verduidelik hy. “En die moed hê om saam te staan en te help.” Hierdie idee loop hand aan hand met hoe hy na Badisa se werk kyk: “Die wêreld het engele nodig. Dis wat maatskaplike werkers is. Hulle maak ’n harde wêreld sagter.” Al sien hy self nie altyd die stories eerstehands nie, hoor hy dit en dit raak hom. “Badisa se werk het my laat kyk na mense buite my eie borrel.” Vir Jak is kuns soos musiek, ’n manier om mense te verbind. “Kuns praat met elke mens anders, maar dit bring mense bymekaar,” sê hy. En soms vra dit ook moed om net jouself daar buite te sit. “Jy moet moed hê om abstrakte kuns te deel.”

Toe hy gevra is om April se Courage/Moed te verteenwoordig, het hy besef: hy hoef nie iets ingewikkeld te maak nie. “Die kleur rooi is klaar genoeg.” En dalk is dit die kern van alles, of dit nou ’n lied soos “Jy is Special” is, of ’n skildery vol rooi bloke, Jak herinner ons dat ons almal ’n rol het om te speel.


Om te sien.
Om om te gee.
En… om die moed te hê om iets te doen.