Welsynsorganisasies speel ’n kritieke rol in Suid-Afrika, maar baie mense is steeds onseker oor wat maatskaplike dienste werklik behels. Badisa het onlangs ’n nuwe strategie bekend gestel om sy dienste onder een duidelike identiteit te verenig – een wat nie net verduidelik wat hulle doen nie, maar dit ook op ’n eenvoudige, menslike manier wys.

Volgens Adrie Jurgensen, Direkteur van Kommunikasie, Bemarking en Fondswerwing, gaan dit daaroor om die storie só te vertel dat mense dit kan sien, verstaan en onthou. “Ons werk is kompleks, maar hoe ons dit verduidelik, hoef nie te wees nie. Ons wou iets skep wat mense onmiddellik ‘snap’, en maklik is om te onthou.”

Badisa posisioneer homself vir die volgende drie jaar met ’n gefokusde doel: om die voorkeur welsynsorganisasie in die Wes- en Noord-Kaap te wees. En die beginpunt is eenvoudig: een storie, een identiteit, een Badisa.

’n Storie in simbole wat almal kan verstaan

Die hart van die nuwe benadering lê in ’n unieke stel ikone, elkeen ’n simbool van ’n diensarea, maar ook van die mense daaragter.

Badisa se maatskaplike werkers word as bytjies uitgebeeld – altyd besig, verbindend, en noodsaaklik vir die funksionering van die groter geheel. Hulle is die goue draad wat deur elke diens loop.

Alternatiewe ouerskap word verteenwoordig deur die seeperdjie – ’n kragtige simbool dat ouerskap nie altyd tradisioneel lyk nie. Soos die seeperdjie-pappa wat die kleintjies dra, herinner dit ons dat sorg en liefde verskillende vorme kan aanneem, maar altyd dieselfde betekenis dra.

Vir kinders en gesinne is daar die meerkat-familie – ’n beeld van samehorigheid, beskerming en gemeenskap. Dit sluit Badisa se werk in skole en vroeë kinderontwikkelingsprogramme in, waar die fokus val op ondersteuning, ontwikkeling en veerkragtigheid.

Die skoenlapper verteenwoordig Badisa se werk met middelafhanklikheid en rehabilitasie – ’n visuele herinnering aan die pad van transformasie, van kwesbaarheid na herstel en nuwe lewe.

By gestremdheidsdienste staan die verkleurmannetjie sentraal – ’n simbool van die werklikheid dat gestremdheid nie altyd sigbaar is nie. Dit vra vir ’n benadering wat sensitief, inklusief en bewus is van elke individu se unieke situasie.

Die skilpad met die hartjie-huis verteenwoordig sorg vir ouer persone – ’n sagte maar kragtige beeld van veiligheid, stadigheid, en ’n plek waar mense steeds behoort.

Selfs die mense agter die skerms kry erkenning. Badisa se personeel is die miertjies – getrou, hardwerkend en dikwels onsigbaar, maar absoluut noodsaaklik. En hul vrywilligers word uitgebeeld as lieweheersbesies – klein draers van vreugde wat altyd ’n verskil maak wanneer hulle opdaag.

Meer as net dienste

Al hierdie elemente kom saam in een groter prentjie: om mense, kinders, gesinne en gemeenskappe te help om ’n gesonde, gelukkige en veilige tuiste te hê.

“Dit gaan uiteindelik oor mense,” sê Jurgensen. “Ons werk is daar om seker te maak dat niemand alleen staan nie, dat daar altyd ondersteuning, hoop en ’n pad vorentoe is.”
Hierdie benadering versterk nie net hoe Badisa na buite kommunikeer nie, maar bou ook intern aan ’n gevoel van eenheid waar elke werknemer en elke program deel is van dieselfde storie.

Eenvoud as krag

Volgens Basie van Wyk, Hoof Uitvoerende Beampte van Badisa, lê die krag van die nuwe strategie juis in sy eenvoud.

“Daar is iets besonders aan eenvoud,” sê hy. “Ons werk is nie elke dag maklik nie, en dit is beslis nie altyd eenvoudig nie. Maar dit wat ons wil bereik, dit móét duidelik wees.”
Hy voeg by dat die kern van Badisa se werk steeds dieselfde bly: om dienste met waardigheid en passie te lewer. “Dit is wie ons is. Dit is wat mense moet ervaar wanneer hulle met Badisa in aanraking kom.”

’n Storie wat bly

Vir Jurgensen is sukses eenvoudig: as mense die storie kan oorvertel, werk dit.
“Ons wil hê dit moet só eenvoudig wees dat selfs ’n kind dit kan verstaan en weer kan vertel. Want dit is hoe jy werklik impak maak.”

Met hierdie nuwe, visuele en toeganklike benadering bou Badisa nie net aan ’n sterker handelsmerk nie, maar aan iets wat meer begrip toon en ’n gedeelde gevoel van omgee bewerkstellig. Ons is een Badisa.

Vir meer inligting, besoek www.badisa.org.za