Akteur en sanger Philip Moolman gaan op 26 Maart as seremoniemeester optree by Badisa se Gholfdag by die Durbanville Gholfklub, ’n geleentheid wat vir hom meer as net ’n sosiale afspraak is. “Ek staan trots links, regs, voor en agter Badisa,” sê Moolman, wat ’n persoonlike verbintenis met die organisasie het wat terugstrek na sy kinderjare. Toe hy op laerskool was, het sy ma vir die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), wat later Badisa geword het, gewerk. Hy onthou hoe sy saans by die huis gekom het met stapels lêers van mense in nood. “Berge en berge lêers… maar vir haar was dit nooit net ‘gevalle’ nie,” vertel hy. “Elkeen het ’n naam gehad – ’n mens wat haar hart geraak het, ’n mens wat sy wou help.”
Daardie herinneringe het ’n blywende indruk gelaat. “Ek onthou hoe sy soms gehuil het terwyl sy deur die lêers gewerk het… en hoe sy gesê het: ‘Ons is Jesus se hande en voete… dis ons verantwoordelikheid om vir mense te wys hoe lief God hulle het.’” Volgens hom leef daardie boodskap vandag nog voort. “Badisa help om Christus se Goeie Nuus sigbaar en tasbaar te maak in mense se lewens. Ek wil graag deel wees daarvan.”

Gholf as ervaring, nie prestasie nie

Hoewel hy by ’n gholfdag betrokke is, beskryf Moolman sy verhouding met die sport op ’n informele manier.
“Vir my gaan dit nie oor die punte nie, maar om elke hou te geniet,” sê hy. Moolman voeg laggend by, “Ek gee nie voor nie, ek is ’n opregte mens. In terme van gholf weet ek glad nie wat my voorgee is nie; ek verstaan nie wat dit beteken, of hoe dit werk nie.”
“Elke keer as ek saam met pêlle gespeel het, het hulle ‘score’ gehou; ek het net lekker saamgery en gespeel,” vertel hy. “Om te sien hoe die bal vlieg en presies gaan waar jy beplan het – dis vir my die lekkerte van die spel.”
Gholf ook ’n manier om weg te breek, meen Moolman. “Wat is lekkerder as om tussen mooi natuurtonele saam met goeie vriende te speel? Dis ’n beloning na ’n week agter ’n lessenaar, tussen vier mure.”

Bekende gesig op die kassie

Moolman is vir baie Suid-Afrikaners ’n bekende gesig en word onthou vir sy rolle as André Vorster in Egoli en Neil Macdonald in Sonkring. Hy het in Parow grootgeword en sy loopbaan het afgeskop toe hy die landswye sang – en liedjieskryfkompetisie Ster ’90 gewen het.
Verskeie televisieproduksies en verhoogrolle het gevolg, asook hoofrolle in plaaslike rolprente en musikale blyspele. Hy het onlangs permanent terug Kaap toe verhuis en is weer betrokke by teater, film – en televisieproduksies in en om Kaapstad.


Die gholfdag vind op 26 Maart by die Durbanville Gholfklub plaas en vorm deel van Badisa se fondsinsamelingsinisiatiewe. Ander bekendes wat ook hul steun gaan wys, sluit in Gerald Pietersen en Reinhard Kotzé van Radio Tygerberg.


Belangstellendes wat wil deelneem of ’n prys wil borg, kan Willow Williams kontak by info@badisa.org.za