Maart se tema by Badisa is omgee. ’n Eenvoudige woord wat die hart van ons werk beskryf. Dit is ook ’n waarde wat vir Dr Willie van der Merwe baie na aan die hart lê. In ons reeks “Ontmoet Badisa se mense”, gesels ons hierdie maand met een van Badisa se stigterslede – iemand wie se rustige wysheid, deeglike voorbereiding en jarelange toewyding ’n blywende indruk op die organisasie gelaat het. Vir Dr Willie gaan omgee nie net oor wat ’n organisasie doen nie, maar oor die gesindheid en roeping waarmee mense mekaar en hul gemeenskappe dien.

’n Lewe van diens en betrokkenheid

Wanneer daar gepraat word van ervaring en institusionele kennis by Badisa, is Dr Willie van der Merwe se naam een wat natuurlik na vore kom. As een van die stigterslede van die organisasie dien hy steeds op die beheerraad en bly hy aktief betrokke by Badisa se visie en toekoms.

Sy betrokkenheid by kerklike en maatskaplike dienste strek oor dekades. In dié tyd het hy eerstehands beleef hoe welsynswerk in Suid-Afrika ontwikkel het van kleiner, gefragmenteerde instansies tot groter, meer geïntegreerde strukture. Vir hom is hierdie ontwikkeling nie net ’n organisatoriese skuif nie, maar ’n noodsaaklike manier om volhoubare diens te verseker in ’n wêreld waar behoeftes groei en hulpbronne onder druk is.

“Badisa staan in ’n diakonale tradisie wat meer as ’n eeu oud is,” sê hy. “Die goue draad deur die jare is ’n fokus op mense in nood – individue, gesinne en gemeenskappe – omdat God vir hulle omgee.” Volgens hom lê Badisa se toekoms daarin om hierdie tradisie voort te sit en relevant te bly deur op ’n innoverende manier op die nood van die tyd te reageer.

Samewerking as sleutel tot volhoubare welsynswerk

Hy wys daarop dat die volhoubaarheid van welsynsorganisasies vandag deur ’n hele reeks faktore beïnvloed word – van finansiële druk en veranderende staatsbeleid tot groeiende behoeftes in gemeenskappe. Daarom glo hy dat organisasies nie meer in isolasie kan funksioneer nie. Samewerking, vennootskappe en gedeelde strukture word al hoe belangriker.

“In die huidige omgewing is die uitdagings eenvoudig te groot vir organisasies om alleen te probeer oorleef,” sê hy. “Wanneer organisasies saamwerk, word hul stem sterker en kan skaars hulpbronne saamgevoeg word vir groter impak.”

Juis daarom sien hy groot waarde daarin dat organisasies deel vorm van ’n groter struktuur soos Badisa. Volgens hom bied so ’n organisasie ondersteuning, kundigheid en gedeelde dienste wat kleiner instansies help om aan statutêre vereistes te voldoen en hul werk meer volhoubaar te maak.

Vir Dr Willie lê Badisa se grootste potensiaal egter nie net in sy strukture nie, maar in sy mense en sy storie. “Die organisasie het oor baie jare kundigheid opgebou en beskik oor sterk mensekapitaal. Die uitdaging is om hierdie potensiaal só te ontsluit dat gemeenskappe werklik daarby kan baat.”

Roeping, leierskap en die toekoms van Badisa

Hy glo ook dat sterk leierskap noodsaaklik bly in welsynsorganisasies. Dit vra leiers wat seker is van die organisasie se identiteit, waardes en visie, en wat personeel en vrywilligers kan inspireer om deel daarvan te wees.

Wanneer daar oor die toekoms gepraat word, beklemtoon hy dat die balans tussen roeping en professionaliteit nie ’n teenstelling is nie. Inteendeel, sê hy, wanneer mense hul werk as ’n roeping verstaan, lei dit juis tot groter toewyding en hoë etiese standaarde.

Na jare se betrokkenheid by kerklike welsynswerk bly sy motivering eenvoudig. Hy glo steeds dat hierdie organisasies ’n belangrike rol in Suid-Afrika se maatskaplike ontwikkeling speel. Sy hoop vir Badisa se toekoms is dat die organisasie sal voortgaan om deel te wees van die kerk se diens in die wêreld en as medewerker van God te help bou aan gemeenskappe.