
Badisa se jaartema vir 2026, Kleur jou wêreld met…, is ’n uitnodiging om weer na ons eie lewensverhale te kyk. Nie om die verlede uit te wis nie, maar om dit met genade en eerlikheid te herstel. Deur die loop van die jaar stap Badisa saam met 12 Suid-Afrikaanse kunstenaars. Elkeen bring ’n eie storie, ’n eie kleur en ’n eie perspektief op hoop en herstel.

“Ek glo God gee vir my kuns sodat ek my gevoelens kan wys wanneer dit te groot is om te sê,” vertel Lidé Boshoff, ’n sagte kind met ’n groot hart wat die wêreld op ’n intense emosionele vlak beleef. Vir haar is kuns nie net ’n stokperdjie nie; dit is haar taal en haar veilige plek wanneer woorde te min raak.
Blou: die kleur van vrede
In haar nuutste kunswerk vir Maart, getiteld Hemelblou Liefde, fokus Lidé op die tema van omgee. Sy het doelbewus blou gekies omdat hierdie kleur vir haar vrede bring. “Blou laat my dink aan God en Sy rustigheid,” vertel sy. “Dit voel soos ‘n kleur wat jou kan vashou wanneer jy bang, moeg of hartseer is.”
Haar werk is diep gewortel in haar geloof en is gebaseer op Matteus 19:14, waar Jesus sê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Omgee is om soos Jesus lief te hê

“Omgee beteken om lief te hê soos Jesus mense liefgehad het ,” sê Lidé. Vir haar is dit nie net ’n abstrakte idee nie, maar ’n daaglikse keuse om vriendelik te wees, selfs wanneer dit moeilik is. “Ek wys omgee deur te luister, deur iemand te help, en deur my hart oop te hou vir ander.”
“Ek wil hê volwassenes moet my sien en hoor, soos Jesus kinders gesien en gehoor het ,” verduidelik sy oor haar behoefte aan begrip van die grootmense in haar lewe. Sy vind haar grootste veiligheid en vreugde by haar mense: “Dit maak my gelukkig wanneer my familie tyd saam met my spandeer en wanneer ek veilig voel.” Daarteenoor is dit vir haar moeilik wanneer daar konflik of onbegrip is: “Dit maak my hartseer as mense kwaad raak of nie probeer verstaan hoe ek voel nie.”
‘Praat sonder woorde’
“Soms voel ek mense verstaan my nie. Dan help my kuns my om te praat sonder woorde. Ek glo God gee vir my kuns sodat ek my gevoelens kan wys wanneer dit te groot is om te sê,” meen Lidé.
“Ek hou daarvan om rustig te werk met verf en potlode. Partykeer kom idees vinnig, ander kere bid ek eers in my hart en wag totdat dit reg voel,” vertel Lidé. Hierdie deernis trek sy ook deur na die figure wat haar inspireer, soos Badisa se Kuumba. “Ek dink Kuumba is ‘n mooi voorbeeld van omgee. Hy wys dat selfs as iemand seer gekry het, hulle nog steeds liefde kan gee.”

’n Boodskap van hoop
As Lidé vandag die president kon wees, sou haar mandaat een van onvoorwaardelike naasteliefde wees. “Ek sou mense leer om lief te hê net soos Jesus ons lief het, want God is liefde en as jy in liefde bly, bly God in jou en jy in God.”
Vir maatjies wat dalk swaar kry of geboelie word, is haar raad eenvoudig: “Kinders kan mekaar help deur langs mekaar te staan, soos Jesus langs mense gestaan het wat alleen was. Soms is dit net nodig om saam met iemand ‘n pad te stap.” Sy moedig ander kinders aan om hul waarde in God te vind, ongeag wat die wêreld sê. “God het jou gemaak in Sy beeld, jy is perfek nes jy is…God ken jou hart en Hy hoor jou as jy met Hom praat, dit is al wat saak maak.”
