Badisa se jaartema vir 2026, Kleur jou wêreld met…, is ’n uitnodiging om weer na ons eie lewensverhale te kyk. Nie om die verlede uit te wis nie, maar om dit met genade en eerlikheid te herstel. Deur die loop van die jaar stap Badisa saam met 12 Suid-Afrikaanse kunstenaars. Elkeen bring ’n eie storie, ’n eie kleur en ’n eie perspektief op hoop en herstel.

In Februarie skuif die fokus na Waarheid: Swart en Wit. Dit is nie ’n maand van helder kleure of afgeronde antwoorde nie. Dis ’n tyd van stil kyk en eerlike lyne. ’n Tyd om nie te jaag om in te kleur nie, maar eers die buitelyne raak te sien. Om by dit wat oopgelê is, te vertoef voordat iets nuuts bygevoeg word.

Dis binne hierdie ruimte dat die werk van Hanlie Kotze tuiskom.

Hande wat praat

Vir Hanlie begin haar werk dikwels op ’n leë bladsy. Die sketse en lyne ontstaan soos “doodles” terwyl sy met iemand oor die foon praat, wanneer sy musiek luister, of tydens alledaagse gesprekke. “Mens doen dit mos, al is jy nie noodwendig ‘n kunstenaar nie”, vertel Hanlie. 

“’n Leë bladsy en sketse smeek my om my drome en emosies te illustreer,” sê sy. Wanneer sy sit en gesels, na voëltjies of musiek luister, raak haar illustrasies ’n manier om uitdrukking te gee aan dit waarmee sy worstel en dit waaraan sy werk. “Ek skets myself gesond,” sê sy, “en motiveer myself daarmee.” Haar hande bly besig met illustrasies van stryd en genesing.

Sy beskryf haarself as ’n privaat mens, maar verduidelik dat sy juis deur haar kuns haar rou emosies uitdruk. “Kyk hoe lyk my hande,” sê sy. “Ek vertel my eie stom storie.” Haar werk, sê sy, is haar “undercover” eerlikheid en waarheid.

Selfontdekking speel ’n sentrale rol in haar kreatiewe proses. Langs haar bed hou sy ’n droomboek. Drome met helder beelde en simbole vind hul weg na haar werk. In die vroeë oggendure maak sy rou sketse en stuur stemnotas vir haarself wanneer sy skaars haar oë kan oopmaak.

“Dit leer my baie van myself,” sê sy. “My onderbewussyn verklaar aan my wat ek onderdruk.”

Drome as deel van die proses

Sy vertel dat sy een oggend vyf waarhede in ’n droom ontvang het. Waarhede waaraan sy die vorige dag voortdurend gedink het. Hierdie ervaring het die begin gevorm van haar Februarie werk vir Badisa. Vyf sketse wat haar laat nadink het oor selfontdekking.

Hoewel haar lynkuns speels voorkom, sê sy dat dit dikwels gepaard gaan met seer en rou emosies. Sy beskryf dit as ’n teenstrydigheid. Die skets kan vrolik lyk, maar terselfdertyd vertel dit van innerlike soeke en hoe haar binnewêreld op daardie oomblik lyk.

Volgens haar is die speelse beelde ’n voorstelling van hoe die eindbestemming kan lyk wanneer ’n mens jou waarhede konfronteer en aan onsekerhede en foute werk. “Wat mens soms vir ander wys, is ’n vrolike ‘show’,” sê sy. “Maar in my woorde en gedigte lê al my waarhede.”

Potlood voor die ink

In Februarie, ’n maand wat vra vir eerlikheid eerder as versiering, raak hierdie manier van skep besonders betekenisvol. Dit is ‘n potloodmaand. ’n Tyd vir sagte sketse en vir lyne wat nog nie finaal is nie. Eers wanneer iets waar begin voel, word dit met meer sekerheid vasgelê.

Oor die verskillende rolle wat sy vervul, praat Hanlie openlik oor die belangrikheid van ondersteuning. “My man, Lukas het, terwyl ons nog ge”date” het, gesê ek moét voltyds ‘n kunstenaar wees. Hy het my ondersteun. As ek met enigiemand anders getrou het, sou dit dalk nie my “destiny” gewees het nie”, sê Hanlie.

“Vir vroue wil ek sê: wees bereid om weerloos en eerlik te wees met die mense naaste aan jou. As jy ’n versorger is, omarm dit, maar vra ook vir ondersteuning wanneer die verantwoordelikhede te veel raak. Ons vroue wil so graag alles onder beheer hou, selfs wanneer ons uitgeput is.”

“My wens is dat ons sagter met onsself sal wees. Dat ons sal sê wat ons wil hê en waarvoor ons wil werk. Dat ons sal erken wanneer ons rus nodig het. Om foute, moegheid en stryd te deel, gee ander toestemming om ook hul eie ervarings te verwoord.”

Deur haar kuns en poësie wil sy hoop oordra. “Ek wil wys dat daar iets goeds uit swaarkry kan voortkom,” sê sy. Sy beklemtoon die belangrikheid daarvan om die klein dinge raak te sien, soos voëls, klippe, mense, gebare en diens, en om met oop hande te leef.

“Leef rou en oop vir emosies,” sê sy.

In Waarheid: Swart & Wit herinner Hanlie Kotze se werk ons daaraan dat eerlikheid die beginpunt van herstel is. Dat ons nie altyd kleur nodig het om vorentoe te beweeg nie. Soms is ’n lyn genoeg, saam met ’n potlood en die moed om weer te begin teken.

Kontak Hanlie by paintinghanlie@gmail.com of 082 782 7397