
In ’n wêreld waar kleur dikwels as sinoniem vir hoop en vreugde gebruik word, kies Badisa, een van Suid-Afrika se mees gevestigde maatskaplike organisasies, om 2026 met iets anders te begin: wit.
Wit, nie as leegheid nie, maar as ruimte. As wagtyd. As asemhaal.
Badisa se jaartema vir 2026, Kleur jou wêreld met…, is ’n uitnodiging aan mense om weer na hul eie lewensverhale te kyk – nie om die verlede uit te wis nie, maar om dit met genade te herstel. Deur die loop van die jaar stap Badisa saam met 12 Suid-Afrikaanse kunstenaars, elkeen met ’n eie storie, ’n eie kleur en ’n eie perspektief op hoop en herstel.Die jaar skop af met die Mosselbaaise kunstenaar Riëtte Delport, wie se Januarie kunswerk die tema “herstel met genade” op ’n diep en stil manier saamvat.
Wanneer wit nie leeg is nie

Delport se Januarie werk is ’n dik laag wit skildery van ’n vroulike gesig, byna sonder kleur, behalwe vir ’n subtiele aanraking by die lippe. Selfs haar handtekening verdwyn amper in die wit. Dit is ’n doelbewuste keuse.
“Die wit is nie leeg nie,” sê sy. “Dit is vol stories. Vol wagtyd. Vol oomblikke waar jy aangehou het sonder om te weet wat volgende kom.”
Die gesig kyk nie vorentoe met antwoorde nie, maar met teenwoordigheid. Dit sê nie ek het gearriveer nie, maar ek is hier. In ’n samelewing wat mense dikwels meet aan sigbare vordering en kleurvolle resultate, herinner hierdie werk ons daaraan dat stilte, wagtyd en asemhaal ook deel is van genesing.
Hierdie ervaring van wagtyd is iets wat Badisa daagliks in hul werk met kinders, gesinne en gemeenskappe in nood raak sien, waar herstel nie oornag gebeur nie, maar laag vir laag.
’n Kunstenaar wat nie bang is vir oorverf nie
Delport het oor die jare ’n lojale aanhang opgebou, nie net vir haar kleurvolle portrette nie, maar vir die manier waarop haar werk mense nooi om hulself daarin raak te sien. Haar vroeëre werke, dikwels met sagte gesigte, vrouefigure en simbole soos granate, engelvlerke en hasies, het reeds sterk temas van veerkragtigheid en innerlike krag gedra.
Met tyd het haar styl stiller geword. Minder verduidelikend. Meer gevoel. “Ek wou wegbeweeg van verduideliking, en nader beweeg aan gevoel,” sê sy.
Granate is een van haar herhalende simbole en staan vir haar as teken van lewe wat aanhou – selfs wanneer dit oopgebreek is. Elke saad dra die moontlikheid van ’n nuwe begin.
Dit is juis hierdie bereidwilligheid om oor te verf, af te skraap en weer te begin wat haar ’n gepaste kunstenaar maak vir Badisa se fokus vir Januarie.
Genade, herstel en keuses
Badisa se Kleur jou wêreld met… tema dra ’n eenvoudige, maar diep boodskap: ’n Nuwe jaar maak nie keuses vir mense nie. Mens moet sélf kies.
Die doek van jou lewe kan so bly soos dit is. Dit kan toegeplak, toegepleister, toegeverf of afgeskraap word. Die keuse lê by jou. En Badisa se rol is om mense – veral kinders, gesinne en gemeenskappe in nood – met genade te ondersteun in daardie proses van herstel.
Vir Delport is genade nie ’n abstrakte konsep nie. Sy praat eerlik oor ’n diep geestelike hernuwing twee jaar gelede wat sy eerder as ’n “tweede kans” as ’n nuwe begin beskryf. Hierdie ervaring het haar werk stiller, eerliker en meer oop gemaak.
Badisa se kernwaardes – om ’n buurman of buurvrou te wees vir mense in nood – vind ook aanklank by Delport se lewensfilosofie. Vir haar beteken dit nie om alles te kan regmaak nie, maar om sag, menslik en beskikbaar te wees. Soms met praktiese hulp, soms met gebed, soms net met jou teenwoordigheid.
“Jy hoef nie klaar te wees om waardevol te wees nie,” sê sy. “Jy hoef ook nie kleur te dra om raakgesien te word nie.”
’n Jaar van hoop, laag vir laag
Regdeur 2026 sal Badisa elke maand ’n nuwe kunstenaar en kleur bekendstel. Later vanjaar sal die 12 kunswerke deel vorm van ’n fondsinsamelingsprojek, met kunswerke wat vertoon word op items soos kalenders, notaboeke en kaartjies.
Maar vir Januarie begin alles by wit.
By asemhaal.
By genade.
By die besef dat kleur sal kom wanneer daar eers ruimte gemaak is.
Besoek www.badisa.org.za en Riëtte Delport Art vir meer inligting.
