Ná jare se leef en werk op die studentedorp van Stellenbosch, hoop meeste mense om dié gejaag vaarwel te groet, nuwe stokperdjies aan te pak en hul aftreegeld in vrede te geniet. Dit is egter nie die koers wat Marietjie Buys se lewe geneem het nie.
Toe Marietjie uit haar pos as Finansiële Bestuurder by die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogiek (SUNSEP) betree, het sy en haar man hul sakke gepak en na Stilbaai verhuis. Volgens Marietjie het hul seun se studieprestasie en verskeie beurstoekennings hom heelwat onafhanklik gemaak en hulle ook die geleentheid gegun om die vryheid van aftrede te ontdek.
By Stilbaai het Marietjie haarself by Ouma Lena se Huis, ’n nasorgprojek van Badisa Stilbaai, as ’n vrywilliger beskikbaar gestel. Die huis in Melkhoutfontein is rentvry deur die tagtigjarige Me. Lena Viljoen geskenk en is in 2009 ingerig om verskeie gemeenskapsprojekte te loods.
Dié gebou het egter ná ’n jaar te klein geword en is met skenkings van die Stilbaai gemeenskap met 55 m² vergroot. Boonop het Me. Viljoen in 2014 die aangrensende gebou gekoop en in September 2015 is die nuwe sentrum geopen.
Daar is ongeveer 30 vrywilligers wat help om die plaaslike gemeenskap via opleidingsprogramme te ontwikkel. Dit is hier waar Marietjie die rekenaarvaardighede wat sy as Finansiële Bestuurder aangeleer het, ten gunste van die gemeenskap wou aanwend.
Marietjie het rekenaargeletterdheidsklasse aan hoofsaaklik werklose mense aangebied, wat onder meer jongmense pas uit matriek tot volwassenes ingesluit het. Marietjie vertel dat haar passie vir menseontwikkeling by die SciMathUS-program by die Universiteit van Stellenbosch, waar sy aan baie studente se behoeftes blootgestel is, aangevuur is.
Die doel van die SciMathUS-program is om leerlinge te help om hulle matriekprestasie in veral Wiskunde en Fisiese wetenskappe te verbeter. Tydens die programaanbiedinge het Marietjie eerstehands gesien hoe studente se selfvertroue met die nodige ondersteuning en mentorskap begin ontwikkel. Dít is dieselfde droom wat Marietjie by Ouma Lena se Huis wou vervul.
Tydens die sessies het Marietjie veral met die leerling Hanri October goed kennis gemaak, wat sy as ’n “besonder intelligente” en “spontane” jong dame beskryf het. Hanri het die vorige jaar (2015) gematrikuleer en kon vanweë sosio-ekonomiese omstandighede nie met haar onderwysstudies begin nie. Hanri het dus Marietjie se klasse bygewoon om haar rekenaarvaardighede op te skerp.
Toe Marietjie van Hanri se uitdagings te wete kom het sy tesame met haar eggenoot besluit om Hanri te help. Hulle het Hanri met die aansoekfooie van drie universiteite bygestaan, daarna saam met Hanri na George gereis om die Nasionale Normtoetse (NNT’s) af te lê en saam fees gevier toe ’n aanvaardingsbrief van die Universiteit van Wes-Kaapland ontvang is. Dit is die goeie nuus waarvoor veral die twee dames gewag het en ’n versekering dat die krag van gebed stééds tot ’n weg van ongekende moontlikhede kan lei.
Vandag spog Hanri met ’n B Ed-graad en onderrig sy elke dag die jonger generasie by die Melkhoutfontein Primêre Skool, Stilbaai.
Marietjie noem dat die geslaagdheid van die klasse juis aan die individuele aandag wat elke leerling ontvang het, toegeskryf kan word. By Ouma se Lena se Huis kon Marietjie ’n pad met elke leerling stap en het sy as’t ware ’n vertroueling vir menige en dikwels onsekere jongmense geword. Ná afloop van die klasse het die leerlinge ’n toets geskryf en indien suksesvol ’n “Sertifikaat van Rekenaarvaardigheid” ontvang. Hierdie sertifikaat dien as ’n bewys van hulle toegewydheid aan selfontwikkeling en kon vir moontlike werksgeleenthede gebruik word.
Alhoewel Marietjie aanvanklik slegs vaardigheidsklasse by Ouma Lena se Huis aangebied het, herinner haar vrywilligheid ons aan die goedgesinde mense wat elke dag in ons gemeenskappe woeker, dikwels sonder erkenning.
Dít is ongetwyfeld van die enkele “dienste” wat Badisa Stilbaai, maar ook die Badisa-organisasie in sy geheel, aan elke naaste in ’n nood wil lewer.
Tans dien Marietjie as die voorsitter van die kerkraad van die NG Kerk Stilbaai en trustee van Ouma Lena se Huis. Hier benut sy haar platform om die aksie van barmhartigheid onder die NG Kerk-lidmate te kweek.
Marietjie sê dat alle mense êrens wil behoort en dat as jy oor die vermoë beskik om ’n verskil te maak, dit sonder huiwering moet doen. Sy doen veral ’n beroep op afgetredes om hul wysheid, vaardighede en ’n luisterende oor aan die mees kwesbare in ons gemeenskappe te verleen.
Sedert sy afgetree het, is Marietjie aktief besig om ’n verskil in minderbevoorregte mense se lewens te maak en kan mens regtig vir meer betekenis in die lewe vra?
Dit is Marietjie se plat-op-die-aarde-ywerigheid en selfgedrewenheid wat myns insiens kenmerkend van elke godvresende mens moet wees. Marietjie se onbaatsugtige offer om haar rustyd vir ploegtyd te verruil het die lewenspad vir soveel mense verbreed.