Tans is daar ongeveer 360 000 siggestremdes in Suid-Afrika. Die indiensneming van blindes was in die verlede meer aangemoedig as dié van ander gestremdhede, grotendeels weens die wêreldwye praktyk om blindes aan te moedig om op telefoonskakelborde te werk—’n gebruik wat sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog gewild geword het.

Alhoewel blindes in die verlede meer werksgeleenthede gehad het, is daar steeds ‘n groot behoefte aan opleiding soos oriëntasie en mobiliteit, wat hulle help om onafhanklikheid en selfvertroue in die werkplek en alledaagse omgewings te ontwikkel.

Oriëntasie en mobiliteitsopleiding het ten doel om selfvertroue by siggestremde persone op te bou, sodat hulle ‘n veilige kierietegniek kan aanleer en in staat is om veilig in bekende en onbekende areas te beweeg. Oriëntasie verwys na die individu se vermoë om te weet waar hy of sy is en waarheen om te beweeg, terwyl mobiliteit fokus op die veilige verplaasing van een plek na ‘n ander, met behulp van ‘n langkierie of gidshond.

Innovation for the Blind, ‘n nie-winsgewende organisasie wat sedert 1881 voorsien in die gespesialiseerde behoeftes van volwassenes met gesiggestremdheid, is ‘n program van Badisa. Hulle fokus daarop om siggestremde persone te help om met selfvertroue in hul omgewing te beweeg, of dit nou by die werk of tuis is.

Ons het met Sharon Goosen, ‘n Orïentasie- en Mobiliteitspraktisyn by Innovation for the Blind gesels. Sy deel praktiese wenke oor hoe werkgewers hul werkplek meer toeganklik en inklusief kan maak vir werknemers met siggestremdhede. 

Die belangrikheid van bemagting in die werkplek

Volgens Goosen, is dit belangrik dat werkgewers saam met hul werknemers werk om siggestremde kollegas te bemagtig om hul volle potensiaal te bereik. Sy beskryf die grootste uitdagings waarmee siggestremde persone in die werkplek te kampe het só: “Stigma en wanpersepsies binne organisasies is die grootste struikelblokke vir siggestremdes.”

Goosen brei verder uit, “Gereelde personeelopleiding is van uiterste belang, veral wanneer daar siggestremde werknemers is, want hierdie persone moet te alle tye met respek behandel word. Dit is noodsaaklik om te weet hoe om met iemand met ‘n siggestremdheid te werk. Daar bestaan steeds baie wanpersepsies, soos dat blindes nie goed kan hoor nie, nie self kan aantrek of stap nie, en nie ‘n normale lewe kan lei nie. Sommige mense glo selfs dat blindes nie trappe kan klim nie. Hierdie mites moet aangespreek word om werklike begrip te bevorder.”

“Om ‘n toeganklike werksomgewing te skep, moet ‘n mens sterk verhoudings met werkgewers bou.” 

Sharon Goosen

Praktiese wenke vir toeganklikheid

Wanneer werkstoeganklikheid geëvalueer word, begin dit by die werknemer self. Werkgewers moet bewus wees van die vermoëns van siggestremde persone en seker maak dat die regte hulpmiddels, soos spraakprogramme en aangepaste rekenaars, beskikbaar is. 

“Daar is oor die algemeen min siggestremdes in die arbeidsmark, en werkgewers sien aanbevelings dikwels as ‘n ekstra koste. Deur saam met plaaslike munisipaliteite te werk, kan ons help om finansiële uitdagings vir werkgewers te verlig. Soms is dit nodig om werkgewers self te laat ervaar wat die uitdagings vir siggestremde persone is om beter begrip en samewerking te bevorder,” meen Goosen.

Respek en kennis is die sleutel tot inklusiwiteit in die werkplek

Sê Goosen, “Behandel elke persoon met ‘n gestremdheid met dieselfde respek as wat jy self sou verwag. As ‘n werkplek mense met gestremdhede in diens neem, is dit belangrik om ‘n inligtingsessie deur ‘n organisasie vir persone met gestremdhede te reël. Dis belangrik om te onthou dat, ‘disability is not an illness, your attitude is.’ Kennis is mag!”

Wenke vir interaksie met siggestremdes

Hier is ‘n paar nuttige wenke om werkgewers en kollegas te help om meer gemaklik met siggestremdes te werk:

Om ‘n inklusiewe werkplek te skep, verg ‘n bietjie moeite en begrip, maar die impak daarvan op siggestremde werknemers is van onskatbare waarde. Deur klein aanpassings te maak en werknemers toe te rus met die nodige kennis, kan werkgewers ‘n ondersteunende en toeganklike omgewing skep wat die potensiaal van elke werknemer ontsluit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *