Anne-Marie Petinger, Programbestuurder by Belindia Dagsorgsentrum in Beaufort-Wes, ‘n program van Badisa, is al vir 21 jaar betrokke by die organisasie en het talle ouers en kinders se lewens aangeraak deur haar visie en passie om haar gemeenskap te dien. Sy vertel haar #verskilmaker verhaal.
Ek was gelukkig om op ‘n baie vroeë ouderdom my roeping en passie – om met kinders te werk – te vind. My eerste ervaring was toe ek vir die voormalige Departement van Onderwys en Kultuur afloswerk gedoen het. Die werk was so bevredigend dat ek besluit het dit is wat ek wil doen vir die res van my lewe.
In 1993 is ek as Graad R opvoeder by Belindia Dagsorgsentrum aangestel. Belindia was toe meer van ‘n bewaarskool met 134 kleuters, wat na die fisiese behoeftes van werkende ouers se kinders omgesien het.
“Na drie jaar is ek as prinsipaal aangestel. Ek het besef dat ek in hierdie posisie ‘n baie beter kans staan om die dagsorg te ontwikkel tot die toonaangewende voorskoolse instansie wat dit vandag is.” Anne-Marie Petinger
Saad vir die toekoms
Innovering en kreatiewe fondswerwing is nodig om enige program te maak werk.
Fondse van die Nasionale Lotery en ander kleiner opgraderings oor die jare het verseker dat ons nou 249 leerders kan akkomodeer. Ons personeel het gegroei van ses na 12 voltydse werkers. Toe opleiding beskikbaar gestel word, het ons die twee graad R opvoeders na Suidkaap Kollege in Oudshoorn gestuur, waar hulle opleiding in klasbestuur ontvang het. Hulle taak was om aan die ander vier opvoeders leiding te bied. Dit het meer struktuur en leerder-vriendelike klaskamers tot gevolg gehad.
Om fondse te versterk het ons in 2008 ‘n Naaldwerkprojek begin wat bekostigbare sweetpakke vir skole in die omgewing gemaak het. Hierdie projek het geduur tot vroeg 2020 toe ons as ‘n laaste projek lapmaskers vir beskerming teen Covid-19 gemaak het.
Gedurende 2009 het ons ‘n ooreenkoms aangegaan met Departement Maatskaplike Dienste om die Bana Pele projek te administreer. Met hierdie projek het ons R101 900 vir die Dagsorg gein.
Vanaf 2016 tot nou word ons befonds deur die KFC Add Hope inisiatief wat 90% van ons voedseluitgawes dek. In 2023 het ons ‘n donasie van R15 000 vir die aankoop van opvoedkundige materiaal vanaf Nedbank ontvang.
Om ‘n verskil te maak is ‘n voorreg
Oor 31 jaar – waarvan 21 jaar onder die vaandel van Badisa – kon ek barmhartigheid uitleef. My doel was nog altyd om ‘n positiewe verskil te maak. Dit was vir my lonend om ‘n hulpbehoewende leerder en sy/haar ouers by te staan. Ons kon met beheerraad reel dat verminderde skoolfonds of kwytskelding aan behoeftige ouers toegestaan word, sodat ‘n kind nie vanweë sy huislike omstandighede van voorskoolse opvoeding uitgesluit word nie. Deur donasie aanvrae – onder andere by Pep Stores, Ackermans en meer onlangs Cosmetics kon ons hierdie leerders klee en sorg dat hulle warm slaap. Ons het finansiele hulp aangebied waar leerders nie ‘n geboortesertifikaat het nie.
Ek is veral trots daarop al ons vorige Graad R opvoeders (na 2011) by laerskole ingeneem is. Ons toon empatie en begrip vir ouers se behoeftes en probeer hulp verleen met maatskaplike kwessies en prosesse. Ons help ook ouers deur hulle kinders na en vanaf die dagsorg te vervoer teen ‘n minimale fooi.
“Ek onthou ook dat twee personeellede in ‘n spanpoging, ‘n leerder se maandelikse skoolfonds betaal het.”
In my loopbaan by Belindia Dagsorg was daar verskeie suksesverhale. Ons het al verskeie kleuters met leerhindernisse verwys vir professionele hulp. ‘n Geval wat my altyd sal by bly, is van “Akka” – ‘n Albino seuntjie – wat in 2016 as drie-jarige by ons dagsorg aangesluit het. Hy is ‘n lewenslustige seuntjie wat betower het met sy danspassies. Ons het egter agter gekom dat hy ‘n probleem met sy sig het. Vinnig is daar skouer aan die wiel gesit om hom by ‘n oogkundige te kry wat die vermoede bevestig het. Die verskillende prosesse van Gesondheidsdepartement is gevolg en het hy ‘n bril gekry en sy selfvertroue het ‘n verdere hupstoot gekry. Sy ouers en grootouers was baie dankbaar vir ons spoedige optrede.
“My motivering en bevrediging was nog altyd die merkbare groei van ons leerders. Ek is trots daarop dat ons daarin slaag om selfversekerde en goed toegeruste leerders na die formele onderrig te stuur. Om te sien hoe ‘n kind hindernisse oorbrug, hul ontwikkelingsmylpale bereik en ook hul blymoedigheid en vergewensgesindheid maak my nederig en passievol vir voorskoolse onderrig.”
Motivering behels begrip, aanmoediging en veral baie erkenning
Ons personeel hou gereeld samesprekings en sessies om mekaar te ondersteun in ons werk, maar ook op persoonlike vlak. My steun en inspirering behels praktiese hulp met organisering en lesaanbieding binne klasverband. Ek deel gereeld my ervarings met my span sodat hulle weet dat jy aan jouself verwagtinge moet (en kan) stel en dat jy altyd moet streef na verdere hoogtes.
“Uitdagings en veranderinge kan omskep word in geleenthede.”
Ek moedig die personeel aan om altyd die beste weergawe van jouself te wees.
Vrywilligers het oor die jare onontbeerlik geword
Ons neem jaarliks tot 25 vrywilligers in by Belindia Dagsorgsentrum. Hierdie vrywilligers is studente wat besig is met hul voorskoolse opleiding en gemeenskapswerkers wat as ondersteuningspersoneel help.
Vrywilligers word voorsien van ‘n posbeskrywing en kan derhalwe vir ‘n opvoeder wat met verlof is, instaan. Die ooreenkoms is ‘n wen-wen situasie waarby vrywilligers vaardighede ontwikkel, terwyl ons dagtaak vergemaklik word met hul hulp. Vrywilligers word betrek by alle vlakke binne ons dagprogram en is dus innstaat om aan die einde van hul termyn ‘n klas op hul eie te bestuur.
In ons veld is dit belangrik dat vrywilligers ‘n liefde vir die versorging van kinders het. Geduld is baie belangrik omdat leerders leer deur herhaling en deur takies self te doen. Die vermoë om in ‘n span te werk is belangrik. Hoewel vrywilligers met hul eie vaardighede kom, moet hulle ook bereid wees om te leer.
Ons het al by twee geleenthede vrywilligers permanent aangestel omdat hulle besonderse werk gelewer het. ‘n Paar jaar gelede het twee van ons vrywilligers inisiatief geneem om ‘n groepie 4-5 jariges af te rig om ‘n spirituele dans uit te voer. Een van die twee gaan eersdaags as permanente werker by ons aansluit.
“My raad aan ‘n voornemende vrywilliger sou wees om seker te maak dat jou keuse van waar jy as vrywilliger wil diens doen, aansluit by jou belangstellings.”
Meer oor Belindia Créche
Mev. Belindia Petersen, ‘n maatskaplike werker by die voormalige Diakonale Dienste, het die behoefte aan innemende aktiwiteite erken vir kinders wat dienste saam met hul grootouers bygewoon het. In 1989 het sy ‘n speelgroep met 40 kinders begin, onder toesig van vier vrywilligers. Hierdie speelgroep is later as Belindia Crèche geregistreer en het befondsing van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontvang.
Vandag het Belindia Dagsorgsentrum 245 ingeskrewe leerders, met befondsing van die Departement van Onderwys vir 230 van hulle. Die sentrum het ses opvoeders, ‘n programbestuurder en ‘n administratiewe amptenaar in diens. Boonop dien dit as ‘n praktiese opleidingsterrein vir universiteitstudente wat hul internskappe voltooi.