Daar is verskillende redes hoekom mense verslaaf raak aan dwelms. Vir 42-jarige Johan Mans, was dit sy soeke na aanvaarding wat daartoe gelei het dat hy vasgevang word in die kloue van dwelmmisbruik se greep. Johan deel sy storie van verslawing, hoe hy weer vrede en geluk gevind het en sy doel in die lewe ontdek het.

Johan se verslawing het oor ‘n tydperk van 10 jaar gestrek totdat hy om hulp gaan klop het by Toevlug Rehabilitasiesentrum, ‘n program van Badisa. Sê Johan, “In daardie tyd was my lewe ‘n groot gemors. Dwelms was in beheer van my lewe, emosies, drome, my toekoms en my denke. Dwelms het bepaal waarheen ek gaan, na wie toe ek gaan en wat ek daar gaan maak. Ek het vir my ouers gesê ek wil nie ophou om dwelms te gebruik nie. Dit was vir my lekker.”

“Ek was moeg daarvoor om net vir dwelms te lewe. Ek wou graag my lewe verander.”

‘n Diep, innerlike moegheid vir sy omstandighede was die finale keerpunt vir Johan. Hy vertel, “Ek het met die gereg gebots en het baie mense geskuld. Ek was moeg daarvoor om heeldag te worry oor waar en hoe ek genoeg dwelms kan kry om my behoeftes te bevredig. Ek glo nie ek sou ooit genoeg kon kry nie. My ouers het my gevra of ek nie hulp wil kry nie, of ek nie weer my lewe terug wil hê nie. Ek was op daardie stadium so moeg vir my lewe dat ek ingestem het om na Toevlug te gaan.”

“Ek het nie baie hoop gehad om my dwelmmisbruik te oorkom nie…”

Die vyf-week rehabilitasieprogram by Toevlug het vir Johan die nodige motivering en bemagtiging gegee om uiteindelik, na 10 jaar, sy dwelmverslawing aan te spreek.

“My ouers het my as ‘n nikswerd gesien, net iemand wat aan dwelms verslaaf is. Ek het gevoel ek pas nie in by my eie familie nie. Ek wou net aanvaar word, en het daardie aanvaarding op al die verkeerde plekke gaan soek. “Ek het vir myself gesê ek gaan die vyf-week program klaar maak en weer dwelms gebruik wanneer ek uitkom.”

Die sentrum se personeel was geduldig, hulpvaardig en het my ondersteun en gemotiveer. Hulle het my nie veroordeel nie. Maar, hulle het genoeg omgegee om eerlik met my te wees, om my te laat verstaan dat my aksies myself en baie ander mense seergemaak het.”

“Om hulp te kry is die beste ding wat jy vir jouself kan doen. Dit is nie maklik nie, maar dit is die moeite werd.”

Vandag, amper een jaar terug, lyk Johan se refleksie in die spieël heeltemal anders, maar hy moes hard veg om die leuens, sy gedagtes en sy emosies vas te vat op sy herstelpad. “Ek het besef dat ek baie foute gemaak het, en ook hoekom ek sekere dinge gedoen het. Emosies het ‘n groot rol in my misbruik van dwelms gespeel. Deur die program het ek besef en geleer dat ek verantwoordelikheid moet vat vir my emosies, my dade, my verlede en my toekoms. Dit het my baie hoop gegee dat ek dit kán doen.”

‘n Nuwe Begin

Vandag is Johan voltyds in diens by Toevlug waar hy, as ‘n jeug toesighouer, ander help wat met dieselfde dinge sukkel as waarmee hy eens geworstel het. Sê Johan, “Om dwelms te gebruik lei na die dood of die tronk – daar is nie ‘n ander plek nie. Dit sal vat en vat tot jy niks meer het om te gee nie, en dan sal dit jou lewe vat.”

“Ek besef dat ek baie maklik in die tronk of selfs dood kon gewees het as gevolg van my dwelmmisbruik. Ek het ‘n kans gekry om weer te lewe, ek het myself weer gevind. Die Johan wat ek as kind was, het ek weer ontdek. Ek is in beheer van besluite, my emosies en my drome. Ek neem verantwoordelikheid vir my lewe, is baie meer geestelik ingestel en koester goeie verhoudinge met familie.”

Meer oor Toevlug Rehabilitasie Sentrum
Toevlug Rehabilitasie Sentrum is ‘n program van Badisa en kan 50 vrywillige volwasse binnepasiënte en 20 jeugdiges tussen die ouderdom van 13 en 18 akkommodeer. Alhoewel Toevlug bekend is vir sy vyf-week binnepasiëntbehandelingsprogram, lewer die sentrum ‘n geïntegreerde diens op al die vlakke van intervensie. Kontak hul 24-uur hulplyn by 023 342 1162 of epos rehab@toevlug.org.za vir meer inligting.