Terwyl ons Jeugmaand herdenk, is dit ook belangrik dat ons bewustheid skep rakende die uitdagings wat ons jeug in die gesig staar, naamlik substansafhanklikheid. Badisa is al meer as twee dekades aktief betrokke by dienslewering aan middelafhanklike persone en dié programme is toegewy aan hul missie om beide volwassenes, jeugdiges en gesinne te herstel en bemagtig.
Badisa het twee programme in die Wes-Kaap wat dienste lewer aan middelafhanklike persone, naamlik Toevlug (Worcester) en Ramot (Parow). Beide sentrums het tydens 2023/2024 ‘n direkte diens aan 3602 persone gelewer en het altesaam 69 personeellede. Intervensie vind op alle vlakke plaas, naamlik:
- Voorkoming in die vorm van inligting gee en bewusmaking skep
- Berading en verwysingsdienste
- Gemeenskapsgebaseerde behandelingsdienste
- Binne-pasiente behandeling vir volwassenes en jeugdiges
- Nasorg, ondersteuning en herintegrasiedienste
Toevlug het tydens die sentrum se 25ste bestaansjaar deel geword van die Badisa familie en kan 50 vrywillige volwasse binnepasiënte en 20 jeugdiges tussen die ouderdom van 13 en 18 akkommodeer. Alhoewel Toevlug bekend is vir sy vyf-week binnepasiëntbehandelingsprogram, lewer die sentrum ‘n geïntegreerde diens op al die vlakke van intervensie.
Theresa Rossouw, Bestuurder by Toevlug Behandelingsentrum, vertel, “Die jeugprogram is veral ontwikkel om te fokus op die spesifieke behoeftes van adolessente met substansverwante probleme. Vennootskappe is met rolspelers soos SAPD, FAMSA, Stikland Hospitaal, Departement van Gesondheid en die Universiteit van Stellenbosch oor die jare gevorm om ‘n multi-dissiplinêre span te vorm wat holisties na pasiēnte se behoeftes omsien.”
Ramot bied ‘n holistiese alternatief vir tradisionele rehabilitasieprogramme deur behandelingsintervensiemetodes toe te pas wat op die hele mens fokus, naamlik liggaam, gees en siel.
Sê Johannes Janse van Rensburg, Ramot Bestuurder, “Ramot verstaan die belangrikheid van rehabilitasie en die impak op individue, gesinne, en gemeenskappe, veral gedurende tye van onstabiliteit en emosionele nood. Met ons 60ste bestaansjaar en ‘n baken van hoop, deur die afgelope jare, lewer Ramot voortdurend ‘n boodskap van optimisme deur ons uitreike na gemeenskappe regoor die Wes-Kaap, met die onwrikbare slagspreuk “’n Nuwe lewe, ’n Nuwe begin” Ramot ondersoek voortdurend nuwe geleenthede en pas ons programme aan om uitmuntende dienslewering te verseker. Met die beker half vol kyk ons gereeld hoe ons uitdagings in geleenthede kan verander.”
Besoek gerus www.badisa.org.za vir meer inligting.