Mylpaal 5 | Kollig op Dienssentrums vir Bejaardes

Elkeen van ons kan ons ‘n belangrike rol speel in die lewens van ouer persone (65 jaar en ouer) in ons gemeenskappe. Ouer persone is kosbare individue wat soveel wysheid, standvastigheid en liefde kan gee as gevolg van hul lewenservaring. Om ‘n koesterende omgewing te skep vir ouer persone in Suid-Afrika lê vir Badisa na aan die hart.

Soos Badisa terugkyk oor 21 jaar van genade en daarmee saam elke week ‘n mylpaal bekend maak in aanloop tot die organisasie se 21ste verjaardag vieringe, plaas ons die kollig op ouer persone en hoe die liggaam van Christus kan help.

“Badisa se visie vir dienslewering aan ouer persone is die bevordering van aktiewe en menswaardige veroudering. Dit is vir ons belangrik om ouer persone in gemeenskappe te ondersteun om as deel van die samelewing kwaliteit lewens te lei en om hul menswaardigheid te behou. Die rol wat Badisa se dienssentrums speel om aan hierdie visie gestalte te gee, is baie belangrik,” sê Ronel van Zyl, Direkteur van Maatskaplike Dienste Programme by Badisa.

Badisa het tans 17 diens sentrums vir ouer persone in die Wes-Kaap en lewer dienste aan ongeveer 2500 ouer persone. Daar is talle uitdagings wat maatskaplike organisasies betrokke by dienslewering vir bejaardes in die gesig staar, veral finansiële druk. 

Ronél verduidelik, “Finansiele volhoubaarheid van die dienssentrums is ‘n groot uitdaging. Die Wes-Kaapse Departement Maatskaplike Ontwikkeling het die dienssentrum subsidie in die tydperk 2023/2024 met 60% verminder. In die afgelope vier jaar is dienssentrum subsidies met 46% verminder. Ouer persone ervaar ook die ekonomiese druk waaronder baie Suid Afrikaners leef.”

“Badisa dienssentrums poog om bekostigbare dienste te lewer byvoorbeeld een sentrum se ledegeld is so min as R10 per jaar. Dit plaas groot druk op die sentrums en kreatiewe en deurlopende fondswerwing is noodsaaklik,” voeg Ronél by.

Jy kan betrokke raak by die versorging en ondersteuning van ouer persone deur ‘n vrywilliger te word of finansieël by te dra in die vorm van debiet orders, EFO’s en aanlyn skenkings.