#AwesomeElderly: Parow Senior Sentrum Dames Brei Beertjies vir ‘n Goeie Doel
Dames van die Parow Senior Sentrum, ‘n dienssentrum van Badisa, het ongeveer 60 “Lukas-beertjies” – gebreide teddiebere ten bate van die Rooi Kruis Oorlogsgedenk-kinderhospitaal (RCOGKH) se Breatheasy program – in Maart tydens die Sentrum se fondsinsamelingstee geskenk. Die geleentheid was gehou ter herinnering van Lukas van der Walt, ‘n drie-jarige seuntjie wat verlede jaar aan ‘n seldsame siekte gesterf het.
Lukas is gebore met ‘n uiters seldsame vorm van spierdistrofie – ‘n degeneratiewe genetiese afwyking wat spierweefsel mettertyd vernietig. Tot en met Lukas se afsterwe, was hy die enigste aangetekende geval in Suid-Afrika. As deel van die Breatheasy program, vorm die gebreide teddiebere ‘n integrale deel van die gesin sowel as vriende en familie se opleiding, bewusmaking en kennismaking van trageostomies.
“In die donkerste tye het ek geleer dat geen ster in daglig gesien kan word nie.”
Lize van der Walt
Lukas se ouers, Tjaart en Lize van der Walt, het agt jaar lank gesukkel om swanger te raak. By geboorte kon Lukas sy arms en bene beweeg, maar het mettertyd hierdie beweging ook verloor. Lukas se asemhaling moes deur middel van ‘n trageostomie en ventilator ondersteun word.
Lize,’n haarkapster in Durbanville, verduidelik dat Lukas slegs fisieke gestremdheid beleef het, en dat hy wel duidelik kon aandui wanneer hy homself geniet en wanneer nie. Lukas het daarvan gehou om in die buitelug te wees en aktiwiteite saam met sy ouers te doen. Hulle het hom saam geneem wanneer hulle gaan draf, fietsry en met die hond gaan stap het. Dit was moontlik te danke aan ‘n spesiale stootwaentjie wat sy ondersteuningsmasjiene kon dra.
Die Krag van Eenheid
Kort voor Lukas se eerste verjaarsdag het Lize en Tjaart dit moeilik gevind om albei te werk en moes op familie en die gemeenskap staatmaak vir ondersteuning. Om hierdie rede stig hulle toe The Little Lighthouse Foundation om fondse in te samel om die versorging van Lukas moontlik te maak, asook om bewusmaking van Lukas se seldsame siekte te bewerkstellig.
Beertjies Laat Lukas se Nalatenskap Voortleef
Gedurende Mei 2022, het Lize ‘n versoek vir gebreide teddiebere op The Little Lighthouse Foundation se Facebook blad geplaas, en die Parow Senior Sentrum het dadelik gehoor gegee aan haar versoek. Die sentrum se breigroep, onder leiding van Marina Klüsmann, het die teddiebere dadelik by hul lys van projekte gevoeg, wol bymekaar gemaak, die woord onder al die breiende lede en vriendinne versprei, en kort voor lank is die eerste besending teddies aan Suster Jane van die RCOGKH oorhandig.
Met klein Lukas se heengaan op 25 April 2023 het die Sentrum besluit om sy lewe te vier en sy naam te laat voortleef deur voortaan die teddies “Lukas-beertjies” te doop. Hierdie jaar is die derde jaar wat Parow Senior Sentrum die Breatheasy program ondersteun.
Breiwerk gee Hoop
Die Sentrum het die afgelope drie jaar meer as 2000 gebreide speelgoed aan kinders in hospitale oor Kerstyd, honderde speelgoed en truitjies aan kinders in Badisa pleegsorgprogramme, en honderde serpe, musse, bedsokkies en speelgoed aan volwassenes en kinders op plase uitgedeel.
Die skenkings van gebreide items deur dames van die Parow Senior Sentrum wys nie net hul talent en barmhartigheid teenoor hul naaste nie, maar bring ook vertroosting, hoop en vreugde aan diegene wat dit ontvang.