31 Mei is Wêreld Sonder Tabak Dag

“World No tobacco day” gee ‘n mens net weer die geleentheid om te besin oor die feit dat dit nie net ‘n vuil en ongesonde gewoonte is nie, maar hoe dit eintlik die voedselkrisis vererger, ongeag hoe die bedryf dit ook al probeer voorhou as die lewensbestaan van tabakboere. Om te beklemtoon hoe die tabakverbouing die omgewing benadeel, terwyl voedselonsekerheid verger word, is vanjaar se “World no tobacco day” tema, ‘Kos is ‘n noodsaaklikheid, nie tabak nie!’. Die verskuiwing van tabak na voedsame, heilsame kos is waarna ons mik om miljoene gesinne te voed en die lewensbestaan van boere wêreldwyd te verbeter. ‘n Wêreld sonder tabak is ‘n wêreld waar almal veilig en gesonder kan wees en nie gedwonge tweedehandse rook hoef in te inasem nie. ‘n Wêreld waar miljoene mense dood en rook verwante siektes kan ontsnap. Met almal se samewerking kan ons daardie wêreld vandag begin.

Ons as volwassenes moet die voortou neem, die voorbeeld stel. Kom ons leef die voorbeeld en skep vir hulle die grondslag deur ‘n voorbeeld te wees van hoe mens gesonde keuses maak.

Ons vra graag die vraag oor waarom rook en “vaping” dan so gewild is.

Mense van alle ouderdomme is verbruikers van tabak, sigarette en “vapes” ongeag die feit dat die skadelike effekte goed gedokumenteer is. Nog altyd en steeds vandag behou dit sy gewildheid, mens kan dus aanvaar dat die feit dat die popkultuur dit so normaliseer, verheerlik en selfs romantiseer dra by tot die gewildheid van rook, “vaping” ens. Daarom moet ons almal die verantwoordelikheid neem om die persepsie te bekamp. Mense het nodig om korrek opgevoed en bewus gemaak te word, sover moontlik.

Indien jy wonder hoe jy betrokke kan raak by die pleit van hierdie saak, wel, bietjie aksie en ondersteuning vir die doel van die dag, mag dalk net groot sukses behaal. Ons moet opvoeding en bewustheid kweek wat mense sover moontlik aanmoedig en bewus maak van die voordele om op te hou rook.

Leer mense oor die gevare van tabakgebruik, gesels met vriende en familie en moedig hulle aan om op te hou rook en nie die epidemie verder te ondersteun en aan die gang te hou. Ons moet pleit vir rookvrye ruimtes en restaurante, publieke plekke behoort die idee van rook areas geensins te ondersteun nie. Kom ons skep veilige rookvrye ruimtes en ondersteun diegene wat graag probeer om op te hou rook en die slegte gewoontes af te skud. Maak oop jou oë en sien watter ramp rookgebruik nie net vir jou eie lewe nie, maar ook vir soveel onskuldige kinders se lewens inhou.

Hoe gemaak om hierdie slegte gewoonte te verbreek?

Die geheim is om iets groter as die gewoonte lief te hê, kies jouself! Kies om jouself meer lief te hê as die slegte gewoonte wat jy so kweek en ondersteun. Ons liggame word op geen stadium in ons lewens vervang nie, kom ons koester die liggaam wat ons ontvang het, voed dit goed, belê daarin en respekteer dit. Dink aan ons liggame as fyn ingestelde voertuie, dit makeer goeie brandstof om jou so ver en na soveel plekke moontlik te neem. Gesond wees is ‘n sukses en prestasie wat mens soms vergeet om te vier.

Kom ons probeer regtig welstand bou, eerder as om siektes later in ons lewens te moet behandel. As jy nou dink dis reeds te laat, wel dit is nie. Dit is nooit te laat om goed en gesond te begin leef nie.

Saai die goeie en die mooi sal daaruit groei.

Geskryf deur: Sydney Vertue, Maatskaplike Werker, Ramot Behandelingsentrum, program van Badisa.