Steinkopf Versorgingsdienste, Steinkopf
Steinkopf Versorgingsdienste (Huis EJ Appies en Immanuel Sentrum vir Gestremdes) is ‘n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk [Wes-Kaapland] en VGKSA [Kaapland]. Aansoeke van gemotiveerde persone met bewese bestuursagtergrond en ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes en gestremde persone, word vir hierdie betrekking ingewag.
Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die Beheerraad rapporteer, met die opdrag om die strategiese visie te operasionaliseer deur doelgerigte bestuurstake en die optimale benutting van hulpbronne en dienste. Daar sal van die posbekleër verwag word om voorsiening te maak vir die versorging van ouer en gestremde persone, in ’n veilige en vriendelike omgewing asook die ontwikkeling van gemeenskapsgebaseerde dienste vir ouer en gestremde persone.
Die bestuurder is verantwoordelik vir die algehele bestuur en gehalteversekering van die fasiliteite, wat insluit: · Toesig oor die verpleegsorgdienste, finansies en menslike hulpbronbestuurfunksies, in samewerking met die multi-dissiplinêre span · Bemarking, kommunikasie en fondswerwing, om te verseker dat die tehuis volhoubare, toepaslike dienste kan bied · Batebestuur en instandhouding van die beroepsgesondheid- en veiligheidsprogram · Skakeling en netwerking met belanghebbendes en die bou van langtermyn verhoudings met strategiese vennote.
Kennis en ervaring van personeel- en finansiële bestuur, arbeidswetgewing, fondswerwing en bemarking asook rekenaarvaardigheid is verdere vereistes. Vorige bestuurservaring en begrip vir die unieke uitdagings en operasionele dinamika van maatskaplike sorg en ontwikkelingswerk sal as ‘n sterk aanbeveling dien.
Vergoeding behels ‘n onderhandelbare salaris asook mediese en pensioenfondsvoordele.
Rig ‘n volledige CV, en dui aan vir watter pos u aansoek doen, voor 27 Februarie 2026 per e-pos aan: mhb@badisa.org.za
