Storie van Hoop | ‘n Reis met Pleegsorg
Esmé Brink
As jy my sou vra of ek ooit sou kon dink dat ek 8 verskillende kinders oor ‘n periode van 8 jaar in pleegsorg sou neem, sou ek gedink het jy is laf. My lewe was perfek beplan: ek sou 3 kinders hê en ‘n gebalanseerde lewe tussen werk en moederskap handhaaf. Maar, soos dikwels gesê word, as jy wil hê God moet vir jou lag, vertel Hom van jou planne.
Dit is nou 12 jaar later. Ek is die enigste broodwinner, bestuur my eie besigheid, en het tans 5 kinders waarvan net een biologies my eie is. Al 5 het spesiale behoeftes. Ek is steeds getroud, maar my man werk nie meer nie – iemand moet immers help sorg vir die 5 kinders!
My reis met pleegsorg het in 2012 begin nadat ek by Badisa betrokke geraak het. My enigste seun was toe 6 jaar oud en is op 2 met outisme gediagnoseer. Ons het alles gedoen om hom te help om hoë vlak van funksionering te bereik. Dit was ‘n lang, eensame, emosioneel uitmergelende reis, met baie dae van wanhoop. Die keuse om nog kinders te hê was moeilik, maar ons het gesmag na ‘n gesin en besef dat ons pad na ouerskap anders sou wees.
Alkoholverslawing, dwelmverslawing, gesinsgeweld, geestessiektes en selfdood was maar van die redes hoekom kinders in pleegsorg by ons geplaas is. Die pad saam met ‘n kind wat uit ‘n traumatiese agtergrond kom is anders en uitdagend. Die proses om ‘n band met ‘n kind te smee en verby die neuroses en angstigheid te werk, is lank en soms uitputtend, maar die belonings is groot.
My nou 16-jarige dogter, Cherné, was vier jaar oud en reeds drie maal uit verskillende omstandighede gehaal toe sy by ons geplaas is. Dit is nou 12 jaar later, sy is aangeneem, in Graad 10, het onlangs erekleure vir hokkie ontvang en is ‘n pragtige, sterk jong dogter!
In 2015 is Liham as ‘n 9 maande oue baba by ons geplaas. Eers in veiligheidsorg, toe in pleegsorg en vandag is hy ook wettig aangeneem. Hy is ‘n besige, 10-jarige wat uitblink op die sportveld en in Wiskunde.
Daar was ook ‘n woelwater, ‘n 18 maande oue seuntjie, ‘n babadogtertjie van 2 maande, en ‘n boetie van 9 en ‘n sussie van 12 wat tydelik in ons veiligheidsorg was. Hulle is herenig met hulle gesinne en ons het gedink ons pad met pleegsorg was voltooi.
In 2020, kort voor Covid, is ‘n boetie en sussie, Christopher en Jessica, onderskeidelik 9 en 10, by ons geplaas. Vir 6 maande tydens die inperking moes ons saam in een huis mekaar vind. Hul omstandighede was moontlik die mees traumatiese tot dusver, nie een van die twee se pa’s is betrokke nie en die ma het selfdood gepleeg.
Dit is nou 4 jaar later. Alhoewel die pad soms nog moeilik is en ons deur baie trauma moes werk, is hierdie kinders goed aangepas in ons gesin. Hulle is geliefd deur hul broers en susters, en alhoewel hulle net in langtermyn pleegsorg is, is hulle 100% my kinders en gryp hulle die geleenthede aan wat ons vir hulle probeer bied.
Christopher, nou 15, het homself onlangs laat groot doop en Jessica, nou 13, het haar uitlaatklep in perdry gevind. Ons het ook die voorreg gehad om hul materne grootouers aan te neem as deel van ons uitgebreide gesin en vir hulle te kon help sorg aangesien beide reeds 80 is.
Mense vra: Hoe word jy lief vir ‘n kind wat nie jou eie is nie? Waar kry jy die geld? Die tyd? Enige taak waarvoor jy jouself vrywillig beskikbaar stel, is ‘n tweerigtingstraat. Ek het nog nooit net opofferings ervaar as pleegouer nie. As ek na elkeen van hierdie kinders kyk, kan ek werklik glimlag oor ontelbare oomblikke van vreugde wat ek deur hulle lewens ervaar het. Dit is meer as wat enige iets anders waaraan ek al geld of tyd spandeer het, kon bied.
En met God se genade is ons nou ‘n gesin van 7.