Badisa 21 Mylpale: Kinder - en Jeugsorgsentrums Floreer

Badisa vier vanjaar sy 21ste bestaansjaar, en stel elke week ‘n mylpaal bekend in aanloop tot die Algemene Jaarvergadering in September. “Dié week vier ons ons derde mylpaal, wat behels die lesse wat ons geleer het sowel as die suksesse wat ons met ons oudste programme, naamlik kinder – en jeugsorgsentrums (oftewel kinderhuise) behaal het,” sê Ronel van Zyl, Badisa se Direkteur van Maatskaplike Dienste Programme.  

Hierdie programme staan sterk en het bewys dat hulle te midde van eksterne en interne veranderinge en onsekerhede steeds puik dienste kan lewer. Die mees onlangse opnames toon dat Badisa dienste aan 689 kinders lewer in kinder – en jeugsorgsentrums.

Vandag is Badisa se kinderhuis programme wyd verspreid in die Wes-Kaap omgewing en sluit in Durbanville Kinderhuis (Durbanville), Herberg Kinderhuis (Robertson), Huis Andrew Murray (Wellington), Huis Van Heerde (Moorreesburg) en Steinthal Kinder – en Jeugsorgsentrum (Tulbagh). Al hierdie kinderhuise is ouer as 100 jaar.

Holistiese benadering tot versorging

Dienslewering van kinderhuise het oor die jare baie uitgebrei en ontwikkel. Voorheen was die fokus slegs op versorging, maar soos die profiel en behoeftes van kinders en gemeenskappe met tyd verander het, is dienslewering aangepas.

“Ons het geleer dat ‘n holistiese benadering wat versorging – fisies, emosioneel en geestelik – betref nodig is en dat kinders se vaardighede ontwikkel moet word sodat hulle hul plek in die samelewing kan volstaan. Die kinders kom uit baie traumatiese omstandighede en daarom word terapeutiese dienste, wat spel -, arbeids -, spraak – en perdeterapie insluit deur ons kinderhuise aangebied. Verder is daar ook ‘n groot fokus op gedragsbestuursprogramme,” sê Ronel.

Durbanville Kinderhuis, ‘n program van Badisa, het tydens 2020 die “Animal Assisted Program” suksesvol op hul terrein geïmplementeer met ‘n maatskaplike werker wat die program bestuur. Die natuurlike belangstelling wat kinders in diere het, help hulle dikwels om hul gevoelens te deel en om sodoende gesonde aanhangsels te vorm. Die diere wat deel vorm van die program sluit in hoenders, proefkonyne, hase en ’n terapiehond is onlangs bygevoeg. 

Skoolplasings bied groot uitdagings

Sommige sentrums maak van tot 38 skole gebruik om hul kinders te plaas. Nie alleen is dit baie duur nie, maar ‘n enorme logistieke uitdaging om elke kind se skool behoeftes aan te spreek.   

Ronel verduidelik, “Kinders word met groot onderrig agterstande en leer gestremdhede opgeneem wat dikwels eers baie laat geïdentifiseer word.  Dit plaas druk op die kinderhuise sowel as die omliggende skole om die verskeie kinders se behoeftes aan te spreek. Ons vind dat baie kinders veral in hoërskool nie by hoofstroom onderrig kan byhou nie.   Kinders wie vanaf 14 en 15 jarige ouderdom skool begin weier en of net nie daarby baat nie, vereis kreatiewe oplossings om aan hulle die bes moontlike opleidingsgeleenthede te bied. Alternatiewe wat tans aangebied word sluit in sentrum onderrig, die moontlikheid van tuisonderrig, aandskool bywoning (ABET) en uitplasing na vaardigheidsprogramme.”

Lesse geleer oor 21 jaar

Een van die belangrikste lesse wat die span by Badisa geleer het in die area van kinder – en jeugsorgsentrum dienslewering is dat holistiese diens, wat die totale menswees van die kind aanspreek, noodsaaklik is sowel as die belangrikheid van ondersteuningsprogramme nadat die kind die sentrum verlaat het.

Ronel vertel, “Ons het geleer dat dienste deur goed opgeleide, maar passievolle personeel gelewer moet word.  Die opleiding van die kinder- en jeugsorgwerkers geniet op hoë vlak aandag ten einde te verseker dat Badisa se dienste aan wetgewing en minimum norme en standaarde voldoen, en dat die kinder- en jeugsorgwerkers by die Suid-Afrikaanse Raad van Maatskaplike Diensberoepe kan registreer.” 

Gemeenskapsintegrasie

Johanna Strauss, Bestuurder van Durbanville Kinderhuis, deel die volgende insette rakende dié program se praktiese benadering om kinders eventueel in die samelewing te integreer. 

“Kinders wat in ‘n kinderhuis grootword, word geïnstitusionaliseer, aangesien die sisteem hul lewens dikteer. Om dit teen te werk, het ons ‘n omvattende vaardigheidsprogram en ook ‘n jaar lange oorbruggingsprogram geïmplementeer wat deur ‘n multi-dissiplinêre span gefasiliteer word. Skoolverlaters en diegene wat buite sorg verouder (wat 18 word) word by ons satelliethuis, Huis Andrag in Kraaifontein, geakkommodeer. Die hooffokus van hierdie program is om ons kinders te leer om onafhanklik binne die gemeenskap te leef. Die program maak ook voorsiening vir kinders wat op 16-jarige ouderdom die skool verlaat, weens ‘n gebrek aan motivering of die gevoel dat hulle nie kan byhou met die akademiese program nie.”

“Volgens die onderwysstelsel mag ‘n kind skool op 16 jaar verlaat, maar ‘n kind kan ‘n kind bly wat sorg en beskerming benodig totdat hulle 18 jaar oud word volgens die Kinderwet. Om hierdie kinders vir die werkswêreld voor te berei, laat ons hulle toe om klein take op die terrein te doen, in óf die Onderhouds- óf Bemarkingsafdelings. Ons betaal hulle ‘n toelae en voldoen aan alle arbeidswet vereistes. Volgens hul werkverrigting en gereedheid vind ons werk vir hulle in die gemeenskap.” 

“Ek glo dat ons sukses uiteindelik gemeet sal word aan hoe ons kinders hul lewens lei wanneer hulle ons sorg verlaat. Om hulle ‘n finale hupstoot te gee, akkommodeer ons werksoekers vir twee jaar en ons ondersteun finansiëel studente wat verder studeer aan tersiêre instellings vir die duur van hul studies.” 

Hoe jy kan help

Ronel sluit af, “Raak betrokke by kinder – en jeugsorgsentrums in jou omgewing as ‘n vrywilliger om programme vir kinders aan te bied, of ondersteun liefdadigheidswinkels en ander fondsinsamelingsgeleenthede. Maar bowenal, hou asseblief ons kinders in gebed.”