Voor my sit ‘n mooi man met ‘n oop, lag gesig. Hy kyk my stip in die oë terwyl ons gesels, maar hy sien my nie.  Hy sê sy oë het hom gegroet.

Op 12 september 1983 is Jeremy* en sy tweeling broer, Martin*, in Pretoria gebore.  Hulle ma is onbevoeg bevind om hulle te versorg en op 6 weke is Jeremy en Martin in pleegsorg geplaas.

Jeremy is 2 maande te vroeg gebore en agv daarvan is sy oë aangetas.  As swaksiende kleuter het Jeremy toe by Prinshof Skool vir siggestremdes in Pretoria aangesluit vir sy skoolloopbaan.    Hy was ‘n ywerige jong man en gretig om sy eie sakgeld te verdien en besluit toe om einde Graad 10 die skool te verlaat om sy stiefma by haar snoepwinkel net buite Hartebeespoortdam uit te help. Hy skroom nie om te sê hoe slim hy is nie.  Hy vertel hoe hy die “till-geld” sommer so sonder ‘n optelmasjien kon laat klop!

Sy oë was swak maar hy kon op daardie stadium darem nog genoeg sien om motor te bestuur en om flink in die snoepwinkel bont te staan.  Hy het ook later ‘n liefde ontmoet en hulle is getroud, maar toe hy sy sig verloor na ‘n mislukte katarak operasie het sy nie meer kans gesien vir die verhouding nie en hulle is na 5 jaar geskei. 

Jeremy sê: “Ek het nooit gedink my oë sal my groet nie.  Die realiteit daarvan het my lewe op sy rug gekeer en ek het in ‘n donker gat beland.  Ek moes besluit of ek in die donkerte van verdriet wou bly lê en of ek my drome wil navolg.  Dit is toe dat ek van Innovation for the Blind gehoor het.”

Op 36-jarige ouderdom het Jeremy ‘n nuwe liefde in sy lewe en het nuwe deure vir hom oopgegaan sedert hy in Januarie 2020 by Innovation for the Blind aangesluit het. 

Hy het met ABET klasse begin om sy matrieksertifikaat te bekom en gaan ook opleiding doen as ‘n Barista sodat hy sy droom om eendag sy eie Koffiewinkel te besit kan nastreef.  Hy is deel van die Sport Klub en hervat sy liefde vir draf waarin hy op skool so goed presteer het.  Hy het reeds by drie verskillende produksie eenhede sy vernuf beproef & leer basiese lewensvaardighede aan.  By die Wassery-afdeling sê sy kollegas hy “press” klere baie beter as ‘n siende persoon!  Hy is ook baie flink besig om sy langkierie tegniek onder die knie te kry onder die wakende oog van ons orientasie & mobiliteits spesialis.  Jeremy het ook nuwe vriende gemaak en is baie gelukkig in sy nuwe tuiste, Huis de Villiers vir mans met visuele gestremdhede.

Hy sê hy wil dien as inspirasie vir ander en benadruk : “Om blind te wees maak my nie minder capable as ‘n persoon wat kan sien nie.  My blindheid gaan my beslis nie keer om my drome te verwesenlik nie.”  

Innovation for the Blind lei, onderskraag en bemagtig persone met visuele gestremdhede, soos Jeremy, om hul volle potensiaal te bereik en om met waardigheid te herenig in die gemeenskap.  Hierdie prestasie sou onmoontlik gewees sonder ons vennote en getroue donateursvriende – wat saam met ons glo in die potensiaal van persone met visuele gestremdhede!

* Name is verander

Leave a Reply