Geskryf deur: Danielle Bezuidenhout

Foto gevind op Landbouweekblad

Om deesdae in die Noord-Kaap aan te kom is ‘n warrelwind van emosies. Jy sien pragtige landskappe, vreugdevolle mense en wit skapies amper orals. Dan sak jou hart effens. Jy besef die landskappe is kaal en moedeloos. Die skape kyk na jou met smekende, honger oë en die swaarkry van jou medemens lê uitgebleik voor jou oë. Jou hart voel swaar in jou bors… dan begin jy met die mense praat en die vreugde kom terug.

Om ‘n Noord-Kaap mens te ken is om krag te ken. Die droogte tap die omgewing leeg en nes ‘n reëndruppel of twee verskyn, tref hy weer. Tog met elke terugslag, staan die mense sterk, trek hul sokkies op en werk vorentoe. Dit verg deursettingsvermoë en moed. Hul krag en harde werk is aansteeklik. Dit is daaglikse diere voer gee en na lammers kyk. Na jou familie en vriende omsien en seker maak elke mens het kos vir die week. Daar word nie stil gesit totdat die dag se werk klaar is nie – dan is daar gewoonlik NOG iets om te doen.

Om ‘n Noord-Kaap mens te ken is om dankbaarheid te ken. Vir alles wat aan hulle gegee word, gee hul dubbeld terug. As daar nood of swaarkry is, sal hul voluit hul harte oopmaak en gee wat hulle kan. Gemeenskappe se helpende arms strek uit na baie organisasies en gemeenskappe oor Suid-Afrika. Op ‘n persoonlike vlak het die liefde en ondersteuning van een gemeenskap in die Noord-Kaap, Loeriesfontein, my familie deur ‘n baie moeilike tyd gekoester.

Om ‘n Noord-Kaap mens te ken is om geloof te ken. Hul sien ‘n toekoms raak wat die natuur wegsteek. Die Here se hart weerkaats in hul gemoed en in die manier wat hulle elke struikelblok aanpak. As gelowiges weet ons die Here voorsien, maar ons weet ook hy gebruik mense om in ander se lewens in te werk. Hierdie mense verstaan dit en dus werk hulle in die lewens van ander binne hul  gemeenskap, asook ander gemeenskappe. Hul verstaan daarmee saam moet jy weet hoe om te aanvaar, wanneer die Here deur ander mense werk in jou eie lewe.

Die droogte wat die streek beleef affekteer elke mens wie dit hul tuiste noem. Gemeenskappe is direk afhanklik van die grond en die natuur om hulle. Van die boer tot die werkers tot die kinders en die bejaardes. Badisa het vele programme in die Noord-Kaap, wat hoofsaaklik fokus op die sorg van gestremdes en bejaardes. Hierdie programme word deur hul gemeenskappe ondersteun, maar in tye van swaarkry is hul dikwels die mees kwesbaar.

Ons lewe in ‘n groot wêreld en word so maklik afgesluit van die swaarkry van ons medemens. Hierdie kersseisoen het ons elkeen ‘n kans om ons medemens te ondersteun. Badisa se ‘Koffie-is-omgee’ projek is geloots om fondse in te samel vir Noord-Kaap programme, gemik op die sorg van gestremdes en bejaardes. Vir die prys van een pakkie koffie (wat net R66 is), gee jy liefde, hoop en finansiële ondersteuning aan ‘n groep ongelooflike mense wat ons so baie van krag, dankbaarheid en geloof leer.

Koffiebestellings kan geplaas word by 021 957 7145 of coffee@badisa.org.za. Vir verder inligting en programme wat ondersteun word, besoek gerus badisa.org.za.

Leave a Reply