Geskryf deur – Teresa Grimbeek

“Ons beleef daagliks in ons werk die lelike kant van menswees en voel soms stories het nie altyd gelukkige eindes nie, maar God tree in en wys ons dat wonderwerke tog nog gebeur.

Om as baba verlaat te word en mislukte pleegplasings te beleef, laat meeste kinders in die ketting kringloop verstrengel raak, maar nie *Fanie nie. Fanie het in sy belangrikste kleuter ontwikkelingsjare, onvoorwaardelike liefde en individuele aandag ontvang by Braveheart.  Op die ouderdom van 6 jaar en ‘n paar maande moes hy sy bekende ‘huis’ verruil vir Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum (KJSS), waar hy maar 1 van 150 geword het. Soveel onbeantwoorde vrae en twyfel of die skuif in sy beste belang is, aangesien hy reeds beskikbaar gestel was vir aanneming. God het van beter geweet, hy het die verskuiwing gebruik om Fanie voor te berei op ‘losmaking’ van als en almal wat hy ken vir ‘n beter toekoms.

Drie maande nadat Fanie by Steinthal KJSS kom woon het, kom al vier maatskaplike werkers betrokke in sy lewe bymekaar by Steinthal KJSS om sy 7de verjaarsdag te vier. Om vier maatskaplike werkers te hê, sê sommer hoe spesiaal jy is. Abba adoptions deel toe daardie dag met ons dat hul ‘n familie vir hom gevind het, ‘n familie wat duisende kilometers vêr woon in ‘n ander land. 

Aangesien bitter min ouer kinders aangeneem word, was dit klaar vir ons ‘n wonderwerk. Om te hoor dat die maatskaplike werker wat die aanneming behartig, na ‘n werkskonferensie was en toevallig in die geselskap beland het van ‘n maatskaplike werker wat vir ‘n gesin soek na ‘n ouer aanneembare kind, was nie toeval, maar God se plan.

Dit was ‘n uitdaging om as maatskaplike werker met die wonderlike nuus te sit, maar dit nie te kan deel voordat die tyd reg was nie.  Die voorbereidingsproses was intens, soveel gereelde sessies en hoe meer tyd saam gespandeer word, hoe nader beweeg ‘n mens aan mekaar en hoe sterker word die verhouding, terwyl jy weet dat jy binnekort finaal gaan moet afskeid neem. Dit was ‘n ongelooflike reis, emosioneel met tye en tyd was nie ons speelmaat nie. Maar daardie oomblik toe Fanie vir die eerste keer sy familie sien en reguit in die arms van sy ‘pa’ hardloop. Die eerste en enigste ‘pa’ wat hy ken, het ons geweet, dit is bestem.

Vandag is Fanie al vir maande lank by sy nuwe familie. Hy is gelukkig, aan die einde van 2018 het hy dieselfde toetse afgelê as sy klasmaats, boonop in die nuwe taal wat hy moes aanleer en het 90% en meer behaal in al sy vakke. Fanie se moeder noem dat hy elke aand nog sy Afrikaanse bybel lees, soms verlang, maar sò bly is dat hy nou by sy familie is. Mag die Here die gesin seën. “

*Fanie is ‘n skuilnaam | foto van Pexels

Leave a Reply