Geskryf deur: Stephné Botha

“EK KAN NIE SIEN NIE, MAAR…

elke dag is vir my soos ‘n geskenk;

ek kan nie sien nie,

maar ek sien met my hart;

ek kan nie sien nie,

maar my familie en vriende is vir my mooi;                                                   

ek kan nie sien nie,

 maar ek weet ek word gedra.”                                                       

– Carleigh du Plessis

Een môre douvoordag, terwyl die oggendson nog loer op die horison en ek loop en my lot bekla, gewaar ek vir Carleigh met ‘n opvallende lied in haar hart.  Haar pad kruis met kennisse en hul lag en gesels en groet tot later vir hul koffie-afspraak in die Blindiana Barista.  “Ons sien mekaar sonder oë,” sê sy vir my.  “Ons hoef mos nie te kan sien om die vreugdes van die lewe te geniet nie,” benadruk sy glimlaggend terwyl sy wegskarrel om betyds by die algemene projekte afdeling in te klok vir haar werksdag.  Carleigh se blymoedigheid laat my beskaamd staan.

Carleigh du Plessis is in 1998 op ‘n beskeie plattelandse dorpie net buite die Kaap gebore.  Sy vertel hoe sy as kind nooit kon verstaan hoe sy gedurig in alles vasgeloop het nie.  Sy het van kleins af reeds baie vrae gehad oor hoekom, tot haar oupa op ‘n dag die moed bymekaar geskraap het om haar donker realiteit met haar te deel.  Die werklikheid van haar oupa se ontnugterende woorde het haar verwar, frustreer en ontstel, maar opgee was nooit ‘n opsie nie!

Sy het later as 8-jarige haar ouerhuis verlaat om by die Pionierskool vir Siggestremdes op Worcester aan te sluit en sit na skool haar lewenspad voort by Innovation for the Blind (voorheen Instituut vir Blindes) waar sy vaardigheidsontwikkeling en versorgingsdienste geniet.  

Carleigh sê haar hande is haar oë … om haar bed op te maak,  springmielies te skiet, tee te maak en haar gunsteling kosse voor te berei.  Sy vertel trots hoe sy skottelgoed was en wegpak sonder om breekgoed flenters te laat val!   Sy erken haar “blinde-pad” is nie ‘n maklike pad nie, maar sy weier om ‘n slaaf van haar gestremdheid te wees.  Sy straal ‘n dankbare vreugde uit – dankbaarheid vir onderskraging en steun oor die jare, vir die opregte omgee van vriende en vir ‘n veilige hawe en ondersteuningsnetwerk soos Innovation for the Blind.  Sy noem haar reis tot waar sy vandag is “my doringpad na geluk”!

Sy geniet klavier speel en stories lees en kuier gereeld in die braille biblioteek.  Maar haar grootste liefde is om uitdrukking te gee aan haar gevoelswêreld deur woorde neer te pen.  Haar drome, vrese en frustrasies kry lewe as sy skryf en dit gee vir haar moed om die onbekendheid van ‘n nuwe dag aan te durf.  Haar bevrydende stories bemoedig haar siggestremde maats en inspireer almal wat bevoorreg is om haar lewensruimte te deel.

Sy sê sy’s nou tuis, en dat Innovation for the Blind haar gehelp het om haar volle potensiaal te ontwikkel en vrede te maak met haar wêreld sonder sig.  Sy besef nou dat haar vermoë om kleurvolle wyshede vlerke te gee en ander daardeur te inspireer haar doel is in die lewe.  Haar groot droom is om eendag haar eie digbundel te publiseer.

Die blote feit dat u hierdie woorde kan sien, plaas u in ‘n bevoorregte posisie. Blindes kan nie en daarom is ‘n unieke opleidingsruimte en veilige allesomvattende werk- en leefomgewing soos Innovation for the Blind so ontsettend belangrik.

Innovation for the Blind is die enigste organisasie in die land wat die volle spektrum van versorging, terapie en vaardigheidsontwikkeling aan siggestremdes bied en is ‘n straaltjie lig in die donker van hul onseker wêreld. Die skadu van ‘n finansiële stryd is ongelukkig steeds ‘n werklikheid, maar met u omgee hart wat aanmoedig kan ons saam ‘n verskil maak in siggestremde persone se lewens en hul dra deur die seisoene van hul lewe. 

Dankie dat u saam met siggestremdes soos Carleigh oorwinnings oor beperkinge laat seëvier en bydra tot die realisering van hul drome.  

Dankie vir u helder lig wat skyn in blindes se duisternis.

“My naam is Carleigh du Plessis.

Ek is 20 jaar oud.

Ek is blind.

Ek sal nooit kan sien nie.

Ek het dit aanvaar.

Dit sal my nooit onderkry nie.

Ek het ‘n sterk heldin

in myself gevind.

Ek is geseënd.

Dit is ek!”

Leave a Reply