Daar is talle kerke wat Badisa se werk ondersteun, en in die volgende paar maande wil ons graag erkenning gee aan die verskeie gemeentes wat ons programme ondersteun.

Hierdie maand is ons fokus op die Stilbaai gemeente wat Badisa Stilbaai met ‘n spesiale kospakkie projek ondersteun.

Cornelia Giliomee, maatskaplike werker by Badisa Stilbaai vertel hoe Mnr. Hans Botes haar gekontak het oor ‘n Sakkie vir Pakkie projek. Die idee was dat Mnr. Botes se omgeegroep ‘n projek sal loots wat Badisa Stilbaai se koskas sou aanvul om aan families uit te deel. Alhoewel Mnr. Botes rolstoel gebonde was, was hy ‘n baie positiewe mens was wat oral waar hy gegaan het ‘n verskil gemaak het. Mnr. Botes is laas jaar oorlede, maar die Sakkie vir Pakkie projek gaan sterk voort.

Die projek is met ‘n span van 5 lede begin, maar vandag is daar al meer as 20 persone wat deel is van die projek. Die gemeentelede van Stilbaai gemeente pak meer as 460 pakkies jaarliks met ‘n geld waarde van R215 000. Hierdie projek voorsien ‘n baie groot behoefte.

Hoe werk die Sakkie vir Pakkie projek?

  • Badisa Stilbaai gee maandeliks vir die span ‘n behoeftelys.
  • Die span verdeel die lys en plaas dit in die leë sakke.
  • Die leë sakkies is elke Sondag by die kerk beskikbaar.
  • Gemeentelede vat dan die sakkie en koop die items op die lys.
  • Gemeentelede bring dan die sakkie terug na die kerk of laai dit direk af by Badisa Stilbaai se kantoor.
  • Weekliks word die items in Badisa se koskaste gepak.
  • Maandeliks maak die span kospakkies op vir gesinne of individue.
  • Elke pakkie kry ook ‘n spesiale Bybelvers.
  • Badisa Stilbaai versprei dan hierdie kospakkies na behoeftige gesinne in die gemeenskap.

Elize Botes wat nou die projekleier is vertel hoe sy verstom staan in God se goedheid en seën oor hierdie projek. “Die Here sorg net dat daar elke maand genoeg kos is.”

Badisa kan nie die werk alleen doen nie, en is dankbaar vir vrywilligers en gemeentes wat hul tyd en passie kom uitleef in projekte soos die Sakkie vir Pakkie projek. As jy graag wil meer uitvind oor die Sakkie vir Pakkie projek kontak gerus vir Cornelia Gilliomee by badisastilbaai@telkomsa.net.

Leave a Reply