Mnr Rudolf Bezuidenhout

In een van Annemarie se boodskappe aan ons beskryf sy Rudolf as ‘n beskeie mens. Hy was dit gewis. Hy wou nooit in die voorgestoeltes wees nie, maar as  ‘n intellektuele sterk persoon en  ‘n kritiese denker was  sy insette  betekenisvol. Sy mening is as lid van ‘n taakspan of kollega  waardevol  geag. Rudolf het onregverdigheid en konflik gehaat, en vir “nonsens”, negatiwiteit en mense wat sonder integriteit opgetree het, het hy min geduld gehad.  Alhoewel  Rudolf sy werk as bestuurder by die kinderhuis met erns bejeen het, was hy  toegewyd aan die kinders en  was daar ‘n sagtheid en deernis vir die kinders van die kinderhuis.  Tia vertel hoe sy en hy in die voorportaal van die kinderhuis gestaan en gesels het toe kom so ry seuntjies oppad na die huiswerk lokaal daar verby. Elkeen het gemik om ietsie vir Rudolf te sê of net  om sy aandag te kry, maar hy stuur hulle terug na die ry met so glimlag op sy gesig.  Die laaste outjie draai toe om en kom vertel  vir hom iets. Albei was duidelik ingenome!  Rudolf het die siel van die kind verstaan. En tussen hom en Annemarie het hul oor byna twee dekades ‘n tuiste geskep vir duisende. Na my eerste besoek aan die kinderhuis wys hy my trots rond en het vir almal wat ons teekom, ‘n woord te se: kommentaar op ‘n seuntjie se nuwe (“miskien te modern maar netjies”) haarstyl, verligting omdat die bussie se “ongeluk” toe maar net ‘n skrapie is, maak seker dat die kleintjies wie in die bussie was, suikerwater kry vir die “skok” (en sommer die ander ook wie jaloers toekyk), druk nog iemand wat bietjie sad lyk sommer so in die verbygaan teen sy bors. Ek kry ewe plegtig “ereburgerskap” vir besoeke aan die biblioteek. Ek ry weg en bel ‘n vriend om te vertel van die “happy place” wat my weer moed gee.

Sy  baie werklike nalatenskap wat hy  agtergelaat, is die manier waarop hy oplossings vir so baie uitdagings gevind het wat die werkwyses by  Durbanville kinderhuis baie lank sal beïnvloed. In sy onderhoud vir die Bestuurderspos by die Kinderhuis het hy laat blyk dat sy eerste liefde die maatskaplike omgewing was en het hy aansoek gedoen  omdat hy geglo het dat met sy regs- en maatskaplike agtergrond hy daar ’n verskil sou kon maak. Dit is wat ook toe gebeur het. Sy bydrae wat tot voordeel van die Durbanville Kinderhuis en Badisa as organisasie.

Ons is bevoorreg dat ons hom van 1997 geken het. Rudolf, ons gaan jou regtig baie mis!

Me. Christine Quickfall
HUB

Leave a Reply