Ons vergeet so dikwels dat ons verpleeg personeel ook ‘n mamma, vrou, versorger, skoonmaker, broodwinner is. Verpleegsters dag is die dag wat ons vir elk verpleeg personeellid wil erkenning gee vir die sagte hande wat elke ouer persoon met deernis, liefde en geduld hanteer . Soms is daar baie uitdagings deur die dag en word julle op geskree, geslaan en weggejaag maar dankie  dat julle altyd teruggaan om julle hartsroeping deur te voer.

Dankie vir elke personeellid wat ‘n Florance Nightingale is, wat  ons roeping en beroep uitleef met deernis en geduld.   

Storie deur Annonieme skrywer.

DIE WERKSDAG VAN ‘N VERSORGER

Haar dag het 04h00 begin want die kombuis moet gevee en skoon gemaak word voor die kinders wakker gemaak word. Nadat die kinders se skool uniforms gestryk is, word elke kind wakker gemaak en met sorg gewas en aangetrek vir skool. Daar moet beplan word wat vanaand geëet gaan word, want dis laat en die kinders is honger as sy by die huis kom.

Toe sy half ses in die leê taxi klim is dit nog donker buite en die straatligte gooi dowwe kolle in die straat.  Straat  vir straat word daar tien kollegas opgetel voor hulle op die N2 indraai en die rit na die tehuis begin. Hier en daar is sy bewus van die gesels onder mekaar maar sy het min geslaap laasnag. ‘n Siek kind het aandag nodig gehad en sy is bekommerd.

Toe sy by die tehuis instap verskuif haar fokus na die inwoners vir wie sy vandag verantwoordelik  is. Gou is die dag op dreef en teen tienuur het sy reeds vyf inwoners gebad, aangetrek, tande en hare versorg en gehelp met die voer van twee bedlêende inwoners. Die oom in kamer 310 was vanoggend weer baie tëesinnig om te bad en sy moes al haar ooredingvermoë inspan om hom omgepraat te kry. Die belofte van ‘n lekker koppie tee het hom darem laat instem. Dit is met ‘n gevoel van genoegdoening wanneer die oom, skoongeskeer en netjies aangetrek, dankie sê na die tyd. Hierdie werk stel hoë eise van geduld en verg liefde vir ouer persone maar die een “dankie nursie” maak haar dag.

Die musiek speel al lekker in die aktiwiteitsentrum toe sy haar kollega vir tee gaan aflos. Sommige van die inwoners dans skuifel skuifel , ander hou net tyd met die voete of klap hande. Monde sonder tande lag breed en vir ‘n kort rukkie is die ouderdom en die ou skete vergete.

Tydens haar middagete rus sy haar voete en sluimer so ‘n bietjie in. Dit gee haar sommer weer energie vir die tweede helfte van die dag. Tussen ‘n vinnige geselsie hier en daar met inwoners is daar  skoonmaak take , regpak van kaste en linnekamer , hand en voetsorg en toilet rondtes.

Teen ses uur weet haar voete en haar rug sy het ‘n elf uur skof agter die rug maar daar is nog twee inwoners wie se nagklere sy moet aantrek, tande moet borsel en ekstra kombers op die bed moet sit. Die nagte raak nou koel.

Teen  19h30 die aand hou die taxi voor haar huis stil. Die buitelig brand al toe sy die voordeur oopmaak. Nou is sy weer ‘n moeder met ander takies. Aandete voorberei, huiswerk nagaan en sorg dat almal se toebrodjies vir môre oggend gemaak is.

Môre oggend om 05h30 toet die taxi voor haar deur…

Leave a Reply