Sr Wiese

Verpleegstersdag is ‘n internasionale dag wat op 12 Mei van elke jaar wêreldwyd plaasvind om die bydraes wat verpleegkundiges tot die samelewing maak, te vier. Dit is juis in hierdie maand dat Suster Wiese in 2000 by Huis de Kuilen begin werk het. Sy het met haar passie, liefde en omgee diep spore getrap in die harte van personeel en inwoners van die tehuis.

Suster Wiese vertel hoe sy al van kinderdae af baie geduld gehad het met ouer persone. Sy het grootgeword op ‘n plaas net buite Koekenaap en het graag naweke haar oupa geselskap gehou. Haar spesiale band met haar oupa het gelei tot haar besluit om diensbaar te wees. Suster Wiese het eers aansoek gedoen vir die polisie, maar het uiteindelik gekies om opgelei te word in verpleegkunde.

Sy het haar opleiding by Tygerberg en Karl Bremer hospitaal ontvang, waarna sy vir jare by hospitale gewerk voor sy by ‘n kliniek begin werk het. Haar droom was egter om met ouer persone te werk, en het daarom die geleentheid om by Huis de Kuilen te werk, dadelik aangegryp.

Wanneer sy wonder oor ‘n hoogte punt in haar loopbaan kan Suster Wiese nie ‘n geleentheid uitlig nie. “Elke dag is anders. Dit is baie spesiaal om met ouer persone te werk, want ‘n mens kan baie by hulle leer. Ek hoop hulle was vir my ook so lief soos wat ek vir hulle is.”

Suster Wiese is nog nuut afgetree, en vertel hoe sy dikwels in die aande nog haar wekker wil stel vir werk. Sy sien daarna uit om meer tyd te hê vir al haar brei- en hekelprojekte, asook haar klipverf stokperdjie. Sy wil ook graag meer betrokke wees by vrywilliger projekte by haar gemeente.

Ons het vir Suster Wiese gevra wat haar advies is vir persone wat nou verpleegkunde wil studeer. “Wees seker dat jy aangelê is om die werk te kan doen. Dit is nie almal wat die geduld en passie het om die werk te verrig nie. In hierdie beroep gee jy baie van jouself. Moet nie dit gaan leer omdat jy ‘n werk soek nie, jy moet werklik ‘n verskil in ander mense se lewens wil maak.”

Huis de Kuilen groet suster Wiese met die volgende woorde: “Dit is met groot hartseer dat Sr. Wiese gegroet word. Sy het díe afgelope 19 jaar diep spore getrap en haar nalatenskap is díe tientalle studente wat sy opgelei het om ‘n verskil te maak in die gesondheid van ander. Mag elke dag van jou aftrede aan al Suster se verwagtinge voldoen.”

Leave a Reply