Van links tot regs: Hannie Visser (Badisa Piketberg), Alec Amerika (Bestuurder Maatskaplike Dienste), Christine Quickfall (Badisa Hoof Uitvoerende Beampte), Hanlie Linde (munisipale Bestuurder, Bergrivier Munisipaliteit), Annemarie Bezuidenhout (Badisa Direkteur Bemarking & Fondswerwing), Ronel van Zyl (Badisa Direkteur: Maatskaplike Diensprogramme), Richard MacDonald (Departement van Maatskaplikedienste – Maatskaplike Werk Bestuurder).

Calendulastraat was tot laasjaar Augustus ‘n stofpad wat deur ‘n oop, ongebruikte erf geloop het. Inwoners het die straat “Vuilstraat” gedoop, omdat die stof altyd hulle voete vuilgemaak het as hulle dorp toe moes stap. Nou is die straat mooi netjies geplavei en skoon met ‘n speelarea vir die kinders van die dorp. Mnr. Ray van Rooy, die burgermeester en inwoner van Calendulastraat, meen dat die straat ‘n bymekaarkom plek sal word, as ‘n plek van integrasie tussen die buurte in die dorp.

Mnr van Rooy se visie is op Vrydag, 5 April 2019 bewaarheid toe Badisa Piketberg ‘n vriendskapstafel aangebied het in Calendulastraat. Talle tafels was uitgesit op skoon plaveisel, pragtig versier met proteas en die Piketberg bergreeks as agtergrond. Die tafels het reeds vroeg begin vol loop met persone uit verskeie buurte van Piketberg, opgewonde oor wat die aand sal bring. Die doel van die funksie was om ‘n platvorm te skep waar persone uit verskeie agtergronde kan hande vat en nuwe vriendskappe vorm.

Me Quickfall, Hoof Uitvoerende Beampte van Badisa het ‘n inspirerende toespraak gelewer waar sy gepraat het oor oerspore – spore wat dekades terug in klei vasgevang is, en vandag nog gesien kan word. Sy vertel hoe Badisa se werk spore van hoop nalaat in die lewens van die 800 000 mense wat ons jaarliks help. Badisa kan nie sy werk doen sonder die ondersteuning van die gemeenskap nie.

Me. Hanlie Linde, Munisipale Bestuurder van die Bergrivier Munisipaliteit, was ook aan die woord. Sy het die gaste gevra om te staan en hande te vat, as simbool dat almal deel van een gemeenskap is. Die kreet “Een Piketberg!” het deur die dorp weergalm, soos wat die aand se verrigtinge begin het.

Me Quickfall saam met Brandon October en verteenwoordiger van Coke

Brandon October het die gaste vermaak met sy musiek op ‘n Coke-Cola verhoog en heerlike kos is bedien deur die Badisa Piketberg kantoor. Die aand was ‘n reuse sukses en sal in 2020 weer aangebied word.

Leave a Reply