– Vertel deur Annemarie Fourie

In Oktober van 2015 word ‘n skamerige 9-jarige Sotho seun in die sorg van Steinthal Kinderhuis geplaas. Sy klein lyfie het talle kneusplekke en brandwonde op gehad. Hy het vertel hoe hy soms van sy huis gevlug het en snags op vreemdelinge se voorstoepe geslaap het voordat die polisie ingegryp het. Die polisie het Kopano verwyder uit die sorg van sy pa en stiefmoeder, en ook die ouers in hegtenis geneem.

Sy biologiese moeder is oorlede voor hulle na Suid Afrika verhuis het. As hy oor sy moeder praat,  onthou hy die blou kombers. Hy was by sy moeder, toegevou in ‘n blou kombers, toe sy hom vir die laaste keer gesoen en gegroet het voordat sy gesterf het.

Kopano is baie lief vir swem en karretjies speel. Die saggeaarde seun het vinnig in ons harte gekruip.  Ons het ure saam met hom in die hof deurgebring tydens sy ouers se verhoor. Met liefde is Kopano aangemoedig om weer met sy pa te gesels. Dit was goed, want sy pa is in 2017 voor die hofsaak afgehandel was, oorlede.

Kopano was baie eensaam na sy vader se afsterwe – ‘n weeskind in Suid Afrika. Sy droom was om terug te keer na sy familie in Lesotho. So het Operasie Repatriasie begin.

Ons is dankbaar vir die samewerking wat ons van verskeie rolspelers in Suid Afrika en Lesotho gekry het om die seun voor te berei vir sy terugkeer, Na maande se onderhandeling kon ons met groot vreugde die goeie nuus met hom deel: “Kopano, jy gaan huis toe.”

Op 7 Maart het ek en Kopano op die vliegtuig geklim na Maseru. Dit was vir hom baie opwindend en hoe nader ons aan Maseru kom, hoe meer spraaksaam het hy geraak. Tydens ons reis het ek vir hom gevra of hy sy pa vergewe het, waarop hy onomwonde positief geantwoord het.  

Die tyd het aangebreek om Kopano te groet. Dit was vir ons albei ‘n emosionele oomblik. Na amper 4 jaar het die jong seun weer ‘n kans op ‘n nuwe lewe en liefde tussen sy eie mense. Al wat Kopano oor het van sy vorige lewe is die herinnering van ‘n blou kombers, en sy pa se verkyker wat hy geërf het.

Ons bid dat die Here se seën altyd op hierdie seun sal wees, en mag hy in ‘n blou kombers van liefde omvou word en altyd met verkykers van hoop streef na ‘n blink toekoms.

*Kopano is ‘n skuilnaam, foto op Pexels.com gevind

Leave a Reply