JUNESkittermanDit het onmiddellik my oog gevang toe ons by die hek inry van die Instituut vir Blindes te Worcester. 
Ek het dadelik penorent gesit, want ek was nog in stille verwondering oor die talle statige geboue wat ek gesien het toe ons dié Bolandse dorp inry. Pragtig, indrukwekkend – monumente van lief en leed.

By die Instituut, sou ek later ontdek, is daar óók monumente – lewende monumente van liefde. Die lewe straal uit hulle soos die brandkraan wat Wikus dié oggend blinkvryf.

Hy’t ’n blou oorpak aangehad terwyl hy die koperkop van die brandkraan sorgvuldig blink vryf. Byna teer. Ek’ t eendag net besluit om die kraan te tackle, vertel Wikus my later. Rian, jy moet weet die kraan was pikswart aangepak, dit vat sweet om dit so blink te kry. Ek’t lief geraak daarvoor, dit het so ’n skoon metaalreuk. Dit stimuleer my en maak my kalm.

 

Wikus doen dit al die afgelope nege jaar lank. Hy’ s een van die swaksiende inwoners van die Instituut vir Blindes en is ook multigestremd. 
Ek kan nie kla nie, dis “genuine” my tuiste dié, vertel hy oor die Instituut . Ek sal nêrens buite kan aanpas nie. 
Jy vat eers die fyn skuurpapier en dan die Brasso. Dis vinnig met Brasso, maar dis nou baie duur.

Dis hoekom ek nou daai wollerige goed in die matrasse gebruik.

Hy kry dit hier by die matrasafdeling waar hy ook gewerk het. Hulle het eers bietjie met my gesukkel, maar ek kan dit nou in my werkstyd doen. 
Hy is lief vir sy werk. Só maak die Here ons ook skoon van Satan se dinge. Eerlike en onomwonde woorde. Wikus wou eers matrasse maak, maar het 18 jaar gelede in sy vrye tyd Huis Eben se vensters begin skoonmaak. Nou doen hy dit met die brandkrane. Hy is tevrede terwyl hy met my praat. Tevrede en kalm, kalm soos die blink kraan hom maak. Die laventels wat hy aanplant het dieselfde kalmerende effek. Ek’t so lus om ‘n takkie te breek en kamer toe te neem.

Ek moedig hom aan.

Wikus sing ook in die manskoor en daar is so baie liedere waarvan hy hou. Psalm 16, verwerkings van Awie van Wyk… Hy hou nie eintlik van wêreldsliedjies nie. 
Sal hy asseblief ’n lied vir my sing? 
Sonder huiwering trek hy weg: Neem my in beskerming Heer… Here, u is my lewe. Die woorde val soos groot klippe in my hart. Tjoemp, tjoemp. Opera vir ’n dors siel. Hy sit dikwels alleen op die sangbank by die Instituut en sing. Só lief is hy vir musiek.

Ek wens ek het die geld gehad… Hy bly stil en ek vra nie verder uit nie. Wikus het my hart hard geraak. Sy toewyding aan die brandkrane, daar is heelwat op die iInstituut se grond, sy versorging van die laventel, die roosmaryn en die lemmetjieboom. 
Hy is gelukkig hier en kan net met lof van die bestuur praat. Wikus, die Skitterman.

Hy skitter soos sy brandkrane, vir Jesus.

Rian E. Cloete 
April 2015.