“Mens moet altyd eers deur ’n moeilike proses gaan voordat jy ’n rottangstoel ordentlik kan maak”. Willie Bester by die Instituut vir Blindes te Worcester se stem is reëlmatig terwyl hy dit sê. Die waarheid daarin slaan my met ‘n veer.

‘n… Mens… moet… altyd… eers… deur… ‘n… moeilike… proses… gaan.

Dié woorde spoel en maal soos ronde klippies deur my kop. Hy is só reg.

Maar Willie het nie na sy eie grootword verwys nie. Nee, wel na die manier waarom hy behendig rottangstukkies buig en breek om ’n mooi stoel te maak. Van 1969 af. Eers was dit maar moeilik, maar vandag neem dit hom ’n dag of wat om ’n stoel te sitstaan.

 

Hy vertel sonder omhaal sy verhaal, een van bitterswaar grootword, en ek sien hoe sý stoel gemaak is, die een wat sy lewe gevorm het.
Hy was maar drie maande oud toe sy rangeerpa hom alleen begin grootmaak het. Gehoor-, sig- en liggaamgestremd. “Ek was klein, vertel hy, toe my oorlede pa my vra om ’n vurk in die pakhuis te gaan haal.” Hy kon dit nie kry nie en sy pa het smoorkwaad ‘n pen deur sy neus dwarsdeur sy verhemelte gegooi. Dis was nog in sy Donnybrook-dae. Lank gelede.

“Alhoewel ek swaar grootgeword het, het ek nog baie respek vir my pa. Die woord van die Here sê: Eer jou vader en jou moeder.”

So sê die man wat al 378 operasies ondergaan het. Drie-honderd-agt-en-sewentig. My regterarm was aan my gesig vasgegroei. Hy was altesaam drie jaar in die hospitaal.

Willie soek net die positiewe van die lewe en hy is so dankbaar vir die talle vriende wat hy in Worcester by die instituut gemaak het. Ek’s baie gelukkig met my lewe, om op te staan en te leef, is ‘n wonderwerk.”

Sê die man wat stukkend grootgeword het.

Willie straal heelheid uit en deel graag sy hart met ander deur sy kitaarspel. As hy in die orkes speel, “sien” hy mense se harte heel word. Hy het lankal die letsels in sy hart laat toegroei, lankal die stukkend afgelaai, dit vir die verlede en vir God gegee. Daarom kon hy maklik met sy pa, toe dié op sterwe lê, vrede maak. En is dit net ’n vae herinnering dat Pa hom kleintyd vasgemaak het om in die trein se stoomenjin te gooi.

“Iemand het dit gelukkig gesien”, sê Willie. “Die Here is alomteenwoordig, dink ek.”

“Ja, net ’n heel hart kan vrede maak en belei: Pa, ek was nog altyd lief vir Pa. En trots op wat Pa my geleer het.”

Vrede, vergifnis, versoening.

Mens moet eers deur ’n moeilike proses gaan voordat jy ’n rottangstoel ordentlik kan maak.

Willie wil graag vir altyd by die instituut vir Blindes in Worcester bly. En hy sal die trekklavier baasraak. “Definitief”, sê hy. “Definitief. Definitief”.

Deur: Rian Cloete

Besoek die webtuiste vir die Instituut vir Blindes en lees meer oor Badisa se dienste aan siggestremdes.

Foto verskaf deur die Instituut vir Blindes.