Rian Cloete, het vir ‘n wyle ‘n paadjie gestap met Badisa en sy omgee-insig gedeel rondom wat hy waarneem op sy reise. Hy het in ‘n wêreld grootgeword met twee interessante kante, Namakwaland. Enersyds is daar die pragtige lenteblomme in Augustus en September en andersyds die wye bruin en ylbegroeide vlaktes waar interessante plantwonders skuil.

Maar die bekoorlike halfmens is die koning van die vetplante, en loer na jou met die oë van gister en plaas terselfdertyd hoop in jou vir môre. Steinkopf is sy grootworddorp waar hy saans na ‘n manjifieke hemelruim kon staar en in verwondering spoetniks kon tel.

 

Hy het onderwys in die Kaap studeer, skoolgehou, gedoseer, begin nuus uitsaai op SABC 2 en toe koers gekry Namibië toe. En so die geboorte van ‘n nuwe volk beleef.

Het jy ‘n gesin, vertel ons meer van hulle?

“My vrou, Wilma is ‘n Namibiër wat ek ‘n week na ons troue een Desember Johannesburg toe geneem het. Daar het ek toe tien jaar vir die SABC gewerk in radio en televisie. My drie kinders, Kara, Liam en Josua is in Gauteng gebore. Nou studeer Kara medies in die Kaap en is die twee seuns by Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch: Liam in matriek en Jos in graad 9. My kinders is plat-op-die-aarde mense en ons kan God nie genoeg dankie sê vir hulle nie.”

Wanneer en hoe het jy te hore gekom van Badisa?

“Ek het Badisa meer as ‘n jaar gelede deur Christi Franken, een van die Badisa Champions leer ken.”

Wat was jou betrokkenheid tot dusver?

“Ek het ‘n baie beter mens geword in my kontak met van die programme en hulle mense. Die inwoners van Alta du Toit nasorgsentrum en die Instituut vir Blindes op Worcester het my weer God se hand laat sien.“

Jy was ‘n nuusman, dink jy die werk wat Badisa doen is nuuswaardig?

“O ja, absoluut. By Badisa is daar soveel goeie nuus stories om te vertel en ek hoop ek sal eendag kan. Mense offer hulle liefde onvoorwaardelik en dit is ‘n wel verdiende getuigskrif”.

Wat is jou visie vir Badisa vir die toekoms?

“Dat die organisasie deur sy werk God se hart aan elke mens sal openbaar.”

Hoe sien jy die sakekern se betrokkenheid by Badisa en het hulle ‘n rol te speel?

“Ek wil die sakewêreld eerstens bedank vir hulle onbaatsugtige skenkings en vra kom ons doen selfs méér. Daar is derduisende ander wat deur die kundigheid en omgee van Badisa bereik kan word.

Het jy ‘n mentor?

“Die wêreld leer my baie….”

Mei is Kinderbeskermingsmaand, hoekom is hierdie in jou opinie ‘n belangrike vraagstuk nou in Suid-Afrika?

“Ons kinders word verbrysel en saam daarmee word die toekoms verdonker. Ons kinders IS die toekoms.”

Gedurende die afgelope 3 maande het jy baie mense ontmoet en baie dinge eerstehands ervaar, wat is die oomblikke wat jou altyd sal bybly?

“Daar is só baie, maar Wikus van die Instituut vir Blindes op Worcester sal altyd by my skitter. Ek het ‘n kort storietjie oor hom geskryf wat hopelik eendag in julle nuusbrief te lees sal wees.”
Wat is jou gunstelinge?

Drankie: Dis nie in die Kaap beskikbaar nie: yskoue water uit ‘n puts.

Kos: Vis en…. heerlike kerrie afval.

Vakansiebestemming: plekke wat my meevoer. Soos Namakwaland in blom, en Namibië as die bruingeelgras oor rooi sandduine gallop.

Tydverdryf: Lees, outobiografië en verhale wat vertel van ontmoetings met God.

Volgens Rian het sy betrokkenheid by Badisa van hom ‘n beter mens gemaak. Dit kan vir jou ook baie beteken. Besoek een van ons programme en raak betrokke. www.badisa.org.za