– geskryf deur Belinda Louw van Esperanza/ Pam Brink.

Die grootste uitdagings met betrekking tot die versorging van ‘n persoon tuis met Alzheimers is: veiligheid, verandering in gedrag, instandhouding van persoonlike higiëne en hoe om uitbranding van die versorger te voorkom.

VEILIGHEID:

  • Verdwaal agv disorientering is ‘n baie groot risiko. Kry ‘n “medic Alert” armband met kontak besonderhede van familie en Alzheimerlyer daarop gegraveer.
  • Hou  sleutels van veiligheidshekke en deure buite die bereik van die persoon.
  • Bure en buurtwag kan help deur bedag te wees oor die moontlikheid van verdwaal van die persoon.
  • Wees uiters bewus van die gevaar vir brand of oorstroming. Ontkoppel toerusting soos ‘n stoof, vermy oop element verwarmers en vervang krane met “druk” krane of hou bad proppe buite bereik.

VERANDERING IN GEDRAG:

  • Wees voorbereid vir agterdog en weerstand wat die persoon gaan bied. (dit is tipiese eienskappe van die siekte – moet dit nie persoonlik opneem nie)
  • Persoonlike higiëne gaan agteruit en die persoon argumenteer daaroor omdat hy werklik glo hy/sy het gebad, tande geborsel ens. Moet nie argumenteer nie- trek aandag af en probeer later weer of probeer ooreed deur bv te sê “As jy klaar gebad het,  gaan ons lekker koek en tee geniet”.
  • Bevestig of persoon werklik gebad het deur te kyk of waslappe klam is. Vrees vir water is ook ‘n tipiese eienskap van die siekte. Vervang ongesiens vuil klere met skoon klere.
  • Te veel keuses verwar die persoon. Hou kleding stukke  in klerekas tot ‘n minimum. Sit klere uit in orde van aantrek bv. onderklere heel bô en dit wat laaste aangetrek moet word heel onder.
  • Maak oog kontak tydens kommunikasie. Versterk kommunikasie deur handgebare te gebruik bv. wys wat die persoon met die  tandeborsel  moet doen. (taal word ook aangetas en die persoon kan later nog hoor maar nie verstaan wat gesê word nie)
  • Gee slegs een opdrag op ‘n tyd.
  • Oorweeg die aanstel van ‘n kurator om die persoon se finansiële  belange te beskerm. Let wel dat ‘n algemene volmag nie geldig is mbt ‘n Alzheimer persoon nie.
  • Indien die persoon skielik meer as gewoonlik gedisorienteerd is, dui dit waarskynlik op ‘n infeksie wat mediese aandag moet kry.
  • Help die persoon met realiteits oriëntering- sit ‘n kalender op met belangrike datums soos verjaarsdae. Merk elke dag af. Deel goeie herinneringe deur na foto albums te kyk. Laat die persoon nuttig voel deur takies te gee wat hy/sy nog kan doen.
  • Ou bekende liedjies en musiek kan nog baie genot verskaf
  • Vir ‘n gelowige bly Godsdiens belangrik. Lees en bid vir die persoon- dit gee vertroosting in ‘n leefwêreld wat vir  die persoon vreesaanjaend geword het.

MEDIKASIE EN VOEDING:

  • Alle medikasie moet weggesluit word en slegs onder toesig gegee word.
  • Maak seker dat die persoon genoeg vloeistof inneem om ontwatering te verhoed.
  • Monitor eliminering en let op na moontlike hardlywigheid wat tot die verlies van eetlus en naarheid kan lei.

“VERSORGER” UITBRANDING:

  • Sluit by ‘n ondersteunings groep aan. Kennis van die siekte word opgedoen en probleme gedeel.
  • Doen soveel kennis as moontlik op deur te lees oor die siekte toestand.
  • Probeer gereeld ‘n blaaskans neem en gee die toesig en versorging oor aan iemand anders. Daar is tehuise wat dagsorg aanbied of, ‘n persoon vir ‘n kort tydperk sal versorg sodat familie ‘n breek kan geniet.
  • Die versorging van ‘n geliefde met Alzheimers gaan met tye moeilik wees- behou jou humor, daar gaan baie “Kodak moments” wees wat kosbare herinneringe gaan word.

Leave a Reply