Me Sophia Louw

Brief aan Badisa van ‘n afgetrede maatskaplike werker 

My bande met Badisa het in die negentiger jare begin toe ek as vrywilliger by die Vigsprogram by die eertydse CMR Parow-kantoor aangesluit het. Ek het later by die destydse Noordelike Stadsgebiede Vigsaksiegroep, wat later as Sothemba bekend gestaan het, begin werk waar ek deel was van ‘n span wat baanbrekerswerk op hierdie gebied verrig het. Hierdie span hou steeds met mekaar kontak d.m.v. ‘n whatsapp-groep,  ‘Sothemba Smart Team’, al bestaan die program nie meer nie! Die verhoudinge wat gevestig is, gaan steeds voort en ons bemoedig mekaar om vol te hou met diensbaarheid. 

Ek was in daardie stadium ‘n moeder met drie jong kinders en het dit geniet om ook heelwat jonger kollegas rondom my te hê. Ek was geïnspireer deur die jonger generasie en al die nuwe kennis wat ek kon opdoen. Ek het die voorreg gehad om verskeie opleidingsprogramme, veral in die MIV/Vigs-veld te kon bywoon. Hierdie tydperk in my lewe en al die blootstelling wat ek aan ‘ongewone’ situasies gehad het, het my professioneel en persoonlik laat groei.  Ek het ‘n 10-jaar dienssertifikaat ontvang en net daarna in 2004 besluit het om weer “huisvrou” te wees. Dit was maar van korte duur, want nadat ek na die platteland verhuis het, het ek my loopbaan as maatskaplike werker by Toevlug Rehabilitasie sentrum in 2006 hervat. Dit was ook ‘n ongelooflike tyd waar ek saam met uiters bekwame persone van ander dissiplines die veld van middelafhanklikheid kom betree.  

Ek het in 2007 by Badisa Wolseley as maatskaplike werker die veld van kinder- en gesinsorg  betree, waar ek vir 11 jaar (tot Desember 2018) gewerk het. Ek was deel van ‘n groot span wat die maatskaplikewerk-kantoor, Huis Mostertshoek en die Dienssentrum vir bejaardes en die Malikhanye Dagsorgsentrum ingesluit het. Die dagsorgsentrum het my veral baie na aan die hart gelê omdat ek ‘n passie vir vroeëkindontwikkeling het.

Omdat finansiële druk altyd soos ‘n skaduwee saam met jou beweeg in ‘n nie-winsgewende organisasie, het ek reeds vroeg in my loopbaan besef hoe belangrik dit is om verhoudinge te bou in gemeenskappe wat kan lei tot donasies en moontlike fondse. Ek het besef dat my eie leefwêreld en kontakte benut kan word tot voordeel van ‘n gemeenskap wat erge nood het. Ons het daarin geslaag om fondse te genereer om ekstra klaskamers by die dagsorgsentrum op te rig en ek deel in die vreugde van uitbreiding en groei. (Ek sien reikhalsend uit na die nuwe sentrum wat binne die volgende paar maande voltooi gaan word).  

Die nuwe Kinderwet was ‘n verdere uitdaging wat ek op Wolseley onder die leiding van verskeie supervisors nl. Elmaryn de Bod/Dippenaar, Annie Hattingh, Levona Fortuin en Franciska Jacobs kon toepas.  Die kliëntsisteem was vir my spesiaal omdat ek my rol nie slegs as ‘n  professionele werker gesien het nie, maar ook die verhouding wat daar tussen die kliënt en myself ontstaan het, kon koester.    

Dit is bykans onmoontlik om hoogtepunte in my loopbaan uit te lig. Ek bring egter  hulde aan die mense wat my mentors, bestuurders, kollegas, mede-rolspelers en kliënte was. Mense wat daartoe bygedra dat ek vandag is wie ek is.  My boodskap aan ander persone in die maatskaplikewerk-veld is: Koester verhoudinge met ander en jy sal ‘n vredevolle aftrede beleef.

Herinneringe as Maatskaplike werker

Me. Isabel Swarts

Dankie aan al die Beheerrade, Bestuurders en Maatskaplike werkers wat my passie gedeel het en deur die jare deel was van my  vorming as ‘n maatskaplike werker. Dit was werklik vir my ‘n roeping wat ek ten volle kon uitleef.

My eerste kennismaking met die eertydse CMR was in Julie 1976 toe ek my drie weke prakties by CMR Uitenhage gedoen het. Dit was vir my ‘n onvergeetlike ervaring toe ek die satelietkantoor by ‘n gemeente moes gaan “beman” omdat die maatskaplike werker met siekverlof was. Net daar doen ek toe aansoek vir die pos wat in Januarie 1977 vakant sou word. Ek het nie vir die pos in Despatch gekwalifiseer nie, omdat ek daar grootgeword het.

In Julie 1997 het ek by CMR Ravensmead begin werk nadat ek 13 jaar by ACVV in De Aar en Maitland gewerk het.  Ek was ook as maatskaplike werker in privaatpraktyk geregistreer omdat ek spelterapie na-ure wou doen.  Die pos het my die geleentheid gebied om myself uit te leef in die gemeenskap met my liefde vir projekte en gemeenskapswerk. Ek en Ester Fourie was in ons element en het groepe begin vir mans, vroue en kinders.  Ons het ook ‘n kersfeesmark gereël wat ‘n groot uitdaging was. Sover ek kan onthou was Ravensmead die eerste maatskaplikewerk-kantoor in die Skiereiland wat ‘n Lotto toekenning ontvang het. Die projek wat ongetwyfeld vir my uitstaan in die sewe jaar wat ek in Ravensmead gewerk het, was die “Eye on the Child Project”. Dit was die mees bevredigendste projek waaraan ek ooit gewerk het.  Alhoewel dit baie entoesiasme, netwerkskakeling en toewyding vereis het, was dit deur en deur die moeite werd om kinders oor naweke te kon beskerm wanneer maatskaplike werkers nie aan diens was nie.  

Ek het in November 2005 by die No Limits Program vir Straatkinders begin werk – ‘n droom vandat ek ‘n student was.  Ek kon tien gemeenskapswerkers help om as maatskaplike hulpwerkers te kwalifiseer, danksy Mariette Swart wat die proses begin het. Dit was ‘n groot voorreg om personeel te bemagtig. Die straatkinders se vindingrykheid het my ook keer op keer verstom. My kollega, Wilma Carlsen, het met die lekkerste spanbou en geldmaak-idees vorendag gekom. Die Gemeenskapskaskarnaval se pannekoek-stalletjie was ook ons kantoor se verantwoordelikheid.

Op 1 Mei 2012 word ek oorgeplaas na Badisa Skiereiland Maatskaplike Dienste. My persoonlike doel as Kantoorkoördineer was om die “personeel te versorg” en volgens my posbeskrywing was dit ook my taak om bemarking- en fondsinsamelingsprojekte te vestig. Ek was betrokke by die ontstaan en vestiging van baie projekte en veranderinge wat geïmplementeer is en waarop ek baie trots is. Die glo die Poppie projek kan net soos die “Eye on the child Project “ die gemeenskappe betrokke kry by die behoeftes van kinders in nood.

Ek hoop iemand sal my droom om vraghouers te kry om meer entrepreneurskapsprojekte, groepwerk en studente te akkommodeer, nastreef.

My GROOTSTE frustrasie was dat ek nie vaardig was in rekenaartegnologie nie en van ander persone afhanklik was en ook dat ek nie mense vinniger kon mobiliseer om ook entoesiasties deel te word van projekte  nie.

Die laaste twee jaar was moeilik met familie uitdagings en ook groter uitdagings by die werk. Menigte nagte moes ek onthou wat in Ps 40: 2 en 3 staan om my te bemoedig.  ‘n Belangrike aanhaling wat ek self ondervind het en met julle wil deel is die van John Bunyan (1628 – 1688):

“Die wat in die oggend van haastigheid by God verby hardloop, sal Hom beswaarlik gedurende die dag inhaal”.

Leave a Reply