Deur Esmé Brink

Spreker. Sanger. Liedjieskrywer.  Hoe bring ’n mens hulde aan iemand wat met woorde en wysies kon toor? Annalise het daardie rare vermoë gehad om woorde tot emosie en klank te kon omskep, en met haar glimlag en glinsterende oë diep binne in mens se siel te kon kyk.

Ek het die besondere voorreg gehad om die afgelope vier jaar saam met haar te kon werk in haar rol as Ambassadeur van Badisa se ONE MORE konsep. Saam moes ons gedagtes, woorde en idees skep sodat mense hul harte en beursies sou oopmaak vir net nog een persoon wat weerloos gelaat is in ons samelewing.

Sy het met die ONE MORE konsep vorendag gekom as ’n kreatiewe manier om Badisa se boodskap uit te dra; die ONE MORE-lied geskryf en getoonset; en ook later die ONE MORE koek gebak en video geskep waarmee ons met R28 mense se lewens kon verander. Sy het verskeie artikels oor die werk wat Badisa doen geskryf.

Sy het ook ‘n ONE MORE bord geskep: ’n blou bord waarop jy die wêreld vir ’n ander kon gee. Alles maniere om mense te leer dat hulle nie aan almal ’n verskil hoef te maak nie, maar net aan nog een persoon.

Haar stem was dié van ‘n nagtegaal. Die naakte emosie wat sy kon oordra deur haar lirieke het mense se harte geroer. Dus was dit vir my ’n groot skok toe Annalise tydens haar hersteltydperk na ’n operasie skielik oorlede is.

Annemarie Bezuidenhout, Bemarkingsdirekteur van Badisa, het onlangs besoek afgelê by Annalise se ouers om hul sterkte toe te wens vir die Kerstyd en te vra of ons nog een maal die R28-veldtog met Annalise se video kon gebruik.  Tannie Pauline en oom Bertie bly in ’n woonstel in die middedorp van Somerset-Wes. Hulle mis vir Annalise, want sy het baie tyd saam met hulle spandeer en ook haar ma versorg tydens ’n lang hersteltyd na ‘n operasie, kort voor haar eie operasies.

Hulle is hartseer, maar het vrede, want as gelowige mense het hulle reeds God se plan vir hul dogter aanvaar. Hulle is dankbaar vir die voorreg om Annalise te kon versorg in die laaste maand wat sy so siek was en vir Annalise se oudste suster, met wie hulle nou baie tyd spandeer.

Annalise het ‘n geweldige talent gehad wat nooit werklik kommersiëel ontdek was nie. Nederig was sy beslis, want die eerste motief vir haar skryfwerk en sang was nooit roem of geld nie, maar om ’n daadwerklike verskil in mense se lewens te maak.

Annalise se drie niggies, saam met wie sy grootgeword het, het na haar dood vir haar ’n gedenkhuisie op die familieplaas in Albertinia ingerig en dit met haar kosbaarste meubels, ornamente, boeke en musiek gevul. Die huisie was die oorsponklike plaashuis en dateer uit 1884. Haar familie en vriende sal voortaan die voorreg hê om in die huisie te gaan bly en dit wat vir Annalise kosbaar was te ervaar.

In haar boek “Met Liefde wat Saamgaan en ander Stories” vertel Annalise dat iemand haar eendag gevra het hoe mens ‘n CD maak.  Sy het geantwoord: “Net soos jy leef:  jy omhels wat vir jou gegee word. Jy eien en ontgin, bewerk en koester alles. En só word jy weer op jou beurt ’n gawe, ’n geskenk aan jou Skepper en Sy skepping terwyl jy eenvoudig, dankbaar en onbevange op jou eie wysie dans.”

God se genade was groot, want Hy het Annalise was vir ons kom leen.  Ons onthou die vrou met die groot hart en die klokhelder stem wat ons kom leer het hoe ’n mens moet omgee vir net nog een ander(s) as jyself.

Rus sag Annalise; jy sal altyd ons ONE MORE Ambassadeur wees.

Leave a Reply