Deur Esmé Brink

Elke kind het die reg tot veiligheid, versorging en omgee.  Elke kind verdien dit om ‘n kans in die lewe te hê.

Met haar lang donker hare, groot, amper swart oë en breë glimlag is Hilary Geslin een van hierdie kinders. Op 19 jarige ouderdom weet sy wat dit beteken om swaar te kry, om te huil, om moed op te gee.  Hilary is woonagtig in Egoli (Carterville), ‘n informele nedersetting in Wellington waar tienerswangerskappe, dwelmisbruik en verkragting daagliks deel is van haar verwysingsraamwerk. Sy het sonder ‘n pa groot geword en haar suster het reeds in Graad 11 die skool verlaat. Sy moes help versorg aan haar jonger boeties en was boonop ‘n epilepsielyer, maar is intussen wonderbaarlik genees.

Dit is soos dit is

Tussen die sinkplaat gehuggies en stofstrate glo die kinders wat hier rondloop dat die normale verloop van die lewe is om as tienermeisie reeds ‘n baba te hê, dat geleenthede hul nie beskore is nie, dat armoede onomkeerbaar en om die skool vroeg te verlaat beter is. Daar is talle kinders wat verantwoordelikheid neem vir huishoudings omdat die ouers vasgevang is in middelmisbruik. Omdat daar min of geen positiewe rolmodelle hier is nie, kry die bendeleiers vatplek met leë beloftes van ‘n beter lewe.

Haar grootste frustrasie is dat mense in Suid-Afrika nie meer die armoede raaksien nie en dat daar ‘n algemene gedagtegang onder die publiek bestaan dat veral bruin mense nie geleenthede wil hê nie. Tog glo Hilary vas dat mense nie ander se potensiaal kan beoordeel op grond van waar hulle vandaan kom nie.

In haar eie lewe was haar Tannie Angeline die een wat haar potensiaal van jongs af raakgesien het en dit aangemoedig het.

Die keerpunt

In ‘n poging om haar gevoelens te verwerk, het sy egter krag gekry om slegs met ‘n analoog-foon, deursettingsvermoë en “Daily Data” van R5 haar drome te begin neerskryf. Nadat sy haar boek, “Success comes with effort” voltooi het, het sy plaaslik na ‘n uitgewer begin soek, maar niemand het belanggestel nie. Haar boek is deur 36 uitgewers van die hand gewys. Dit het haar nie gekeer nie en sy het bloot oorsee met die hulp van haar foon en Google haar manuskrip verder versprei totdat Partridge Publishers haar gekontak het. Tans is daar reeds meer as 12 miljoen kopieë wêreldwyd verkoop en is die boek reeds in verskeie tale vertaal.

Wat is haar droom?

“Surround yourself with those who want success as bad as they want to live.”

Sy is duidelik daaroor dat sy ‘n verskil wil maak in haar gemeenskap en waarde wil toevoeg tot mense se lewens.

Tog bly Hilary Geslin nederig en voer sy aan: “ek is net ‘n doodgewone mens”.  Haar rol as mentor in haar gemeenskap is egter nie misken nie. Sy gesels daagliks met kinders en moedig hulle aan om hul drome te deel en ‘n werklikheid te maak. Maar nie almal het ‘n tannie soos haar tannie Angeline, wat haar bestuurder en mentor is, nie en daarom het sy groter planne om hierdie gemeenskap werklik te help.

Ambassadeur van Badisa en Badisa Children Foundation NPC

Juis omdat Hilary die regte van kinders en die noodsaaklikheid van kinderbeskermingsdienste so goed verstaan, is sy onlangs verkies as ambassadeur van Badisa en die Badisa Children Foundation, wat gestig is as ‘n voertuig om fondse vir kinderbeskermingsdienste binne Badisa te genereer.

Sy wil as ambassadeur in haar nuut-gevestigde internasionale netwerk mense bewus maak van die omstandighede in Suid-Afrika en werk skep vir mense ongeag hul omstandighede. Sy glo Badisa kan ‘n verdere kardinale rol speel in selfbewusmakingveldtogte en kampe onder die jeug in terme van die ontwikkeling van hul selfwaarde, talente en werkskepping. Sy beplan ook om binnekort op ‘n Badisa-toer te gaan om die verskillende programme te besoek waar Badisa betrokke is.

‘n Doel en ‘n toekoms

 “’n Mens moet begin by ‘n persoon se denke, want hier glo mense, dinge is soos dit is en dit kan nie verander nie. Daar is geen eksterne bronne om hulle te motiveer nie. Daar is talle mense vasgevang in afbrekende verhoudings wie glo dat dit beter is om in ‘n so verhouding te wees as alleen – alles begin met geletterheid.”

“As jy nie hoop het nie, het jy niks. ‘n Droom gee vir jou rigting. Almal het ‘n droom en soms is emosionele onderskraging en positiewe woorde meer werd as geld.”

Ek dink aan die uitkyktannies van ouds wat gesorg het dat kinders in hierdie gemeenskappe kos en klere kry en van die straat af bly.  Ek is dankbaar vir Tannie Angeline wat Hilary se potensiaal raakgesien en aangemoedig het, maar ek besef ook die uitkyktannies in ons gemeenskappe raak al hoe minder, dis nou die jong mans en vroue wat vir hulself opstaan ten einde beheer oor hul toekoms terug te neem.

Ons laai Hilary by haar huisie af en ry verby talle nuuskierige kinders in die stowwerige strate van Egoli. In my geestesoog sien ek strate van goud, want soos die naam voorspel lê hier onontginde goud in die monde van baie kinders wat verdien om gehoor te word.

Leave a Reply