Om ouer persone menswaardig te behandel - Deur Esme Brink

’n Onderhoud met Okkie Stander, Bestuurder by Huis JJ Watson te George

Okkie kom die vertrek binne, ‘n kort man met ‘n sagte stem. Hy vra verskoning dat hy laat is – iemand is so pas dood. Daar is verlede jaar 30 mense hier oorlede. Mense wat hul laaste dae kom sluit het op George in ’n tehuis wat werklik omgee.

Okkie is die bestuurder, maar hy het ook onlangs ‘n Doktorsgraad in Kultuurgeskiedenis behaal. Sy tesis handel oor Wit Armoede in Oudtshoorn in die vroeë 1900’s en die impak wat dit op dié mense se psige gehad het. Dit was die jare voor die depressie. Mense wat arm is, voel minderwaardig en die sosiale diskriminasie teen hulle is baie hoog. Dis hierdie navorsing wat hom ook gehelp het om diskriminasie in vandag se tye beter te verstaan en wat die etiket van armwees beteken.

Hy het self ook in Oudsthoorn grootgeword en is al 22 jaar in hierdie bedryf werksaam. Hy glo vas aan die visvangbeginsel: Gee ‘n mens ’n vis en jy voer hom vir ’n dag, maar leer ’n mens om vis te vang, en jy voer hom lewenslank. “Maar”, sê Okkie, “die jeug van vandag is nie meer selfonderhoudend nie. Destyds as daar nood was, kon jy groente kweek, klere maak of wat ook al nodig was om aan die lewe te bly.”

Die wêreld van ‘n ouer persoon

Ek is egter hier om vandag met Okkie te gesels oor die wêreld van ouer mense. Hier by Huis JJ Watson is die gemiddelde ouderdom van die inwoners 80 jaar.

Tannie Anna, Tannie Nellie, Tannie Pat. Ons ken hulle almal… ou tannies met sagte velle, vaalblou oë wat nie meer so lekker kan sien nie, yl grys hare, maar die wêreld se wysheid.

Okkie is dit eens dat dit nie saak maak hoe oud sy inwoners is nie, hy poog elke dag om hul selfwaarde terug te gee en te handhaaf. Hy vertel ons van tannie Patty Burgess, ’n prima ballerina op haar dae. Sy het Alzheimers, maar sy onthou haar die dae toe sy op die kruin van haar loopbaan was en hy het dit goedgedink om haar te verbind met die George Balletskool waar sy betrokke geraak het by die eksaminering. Of tannie Nellie – sy hou van blomme rangskik en hy los haar om dit te rangskik soos sy wil, nie soos die VLV sê sy moet nie. Tannia Anna was ’n musiekonderwyseres, maar sy reageer lankal nie meer nie. Toe besluit Okkie sy moet langs die klavier sit by die musiekoggende. Eers het niks gebeur nie, toe ’n rukkie later loop daar ’n enkele traan by haar wang af en nog later begin sy tyd hou met haar een hand, teruggevoer na dit wat haar eens soveel vreugde besorg het.

Wat beteken menswaardigheid?

“Om mense deel te maak van iets groter as hulself en om hul nuttig te laat voel. Hierdie mense is dikwels eensaam en verstoot. Wanneer jy ouer mense betrek, verdwyn baie van hulle probleme.”

Daarom het hulle ook hier ‘n gespreksmiddag op ’n Donderdag. ’n Dag wanneer die inwoners kan kom gesels oor artefakte uit hul verlede. Selfs die Alzheimers pasiënte kan gesels oor dinge wat hul onthou uit hul kinderdae. “Nou waar kry jy tyd as jy nog alles moet bestuur?”, vra ek. “Wat is belangriker, papierwerk of om tyd aan mense te spandeer?” antwoord hy saaklik.

Die stimulasie van ouer mense

Dis belangrik om ouer mense heeltyd te bly stimuleer. Mense treur dikwels as hulle kinders oorsee gaan of hulle word misbruik vir hul geld. Hy vertel hy het al letterlik ’n inwoner met net ’n koffer in die hand en die klere aan haar lyf by die busstop gaan haal.
Maar hy maak ook twee keer ’n jaar die tyd om dankie te se aan donateurs en diegene se familie wat wel omgee. Om mense spesiaal te laat voel is die geheim. Dit geld vir almal wat hier werk. En omdat sy werkers ingekoop het in die waardes van Badisa, sal een by ’n ouer persoon sit en Bybel lees, of ’n ander iemand se voete was, nie omdat dit deel is van haar werk nie, maar omdat hulle verstaan dat om ’n ander persoon menswaardig te behandel niks kos nie.

Kontak Okkie Stander by 044 874 3039 of jjwatson@mweb.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Leave a Reply