IMG_20180814_134607.jpg

Daar word vertel dat die energie van ‘n Melkhoutboom jou kan laat voel asof jy behoort. Dit is ‘n boom wat gevoelens van minderwaardigheid kan wegwaai en deur sy sterk, geknoetsde takke plekke kan skep waarin ‘n verskeidenheid spesies ‘n veilige hawe kan vind. In Suid-Afrika is dit ook ‘n beskermde boom, wat beteken dat geen Melkhoutboom beskadig, verwyder of afgekap mag word nie.

 

b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_153030.jpg  b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_134607_20180913-113247_1.jpg   b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_134602.jpg

Dis vir my daarom so gepas dat Ouma Lena se Huis juis in Melkhoutfontein, Stilbaai staan – op die hoek van Rooipitjiestraat en Freesiaweg.  Die twee kunswerke teen die mure, gemaak van blinkertjies en knope, vertel dan ook die storie van hoe mense wat hierheen kom, geleer word om soos die Melkhoutboom te wees, en die bloedrooi appel, hoe ‘n mens nog boonop ‘n boom moet wees wat moet vrugte dra.

Hier vind ons mense soos Cornelia (Badisa se maatskaplike werker) Tannie Jennie (Badisa Stilbaai se Beheerraadslid en Vrywilliger) en talle ander Stilbaai tannies en ooms wat elke dag Ouma Lena se huis besoek om ‘n verskil te maak in die kinders van Melkhoutfontein se lewens. Want hier is dit nie net die kuswindjie wat soms kan verinneweer nie, maar ook dinge soos armoede, verwaarlosing en misdaad.

b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_142142.jpgb2ap3_thumbnail_l-openinglenahuis_64515.jpg b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_151441_20180913-114822_1.jpg

Ouma Lena Viljoen, ’n inwoner van Stilbaai asook beskermvrou, het die huis vir Badisa se gebruik geskenk, en wat aanvanklik ‘n veiligheidshawe vir weerlose kinders sou wees, het sedert 2009 al verskeie gedaanteverwisselings ondergaan.

Nie net bied Ouma Lena se huis ’n veilige hawe vir kinders nie, dit is ook: ‘n kleuterakademie watsensoriese stimulering vir kleuters bied; ‘n sopkombuis; ‘n nasorgfasiliteit vir skoolkinders; ‘n leessentrum; ‘n satellietkampus vir die Suid-Kaap Kollege; en ‘n geleentheid vir die tannies en (ooms) van Stilbaai om hul vaardighede ten goede aan te wend. En tussen alles deur is daar een goue reël wat vir almal geld: “Behandel ander soos jy behandel wil word”.

b2ap3_thumbnail_collage.png

Die fasiliteit maak tans voorsiening vir 70 tot 100 kinders tussen die ouderdomme van 5 and 14 jaar. Hierdie kinders ontvang elke dag ‘n gebalanseerde middagete en ook ‘n vroeë aandete voor hulle huis toe gaan, dikwels hul enigste kos vir die dag. Hulle kry ook die geleentheid om een maal ‘n week ‘n warm bad of stort te geniet, omdat hulle dikwels nie hierdie fasiliteite tuis het nie.

b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_143413.jpg b2ap3_thumbnail_Article-Pic-1-8-768x577.jpg

 

Van 14:00 af kom die vrywilligers uit Stilbaai om hulp te verleen met remediërende onderwys, lees, huiswerk, ekstra Wiskunde klasse en ‘n ook een maal ‘n week die geleentheid vir die kinders om hulself kreatief uit te leef.

Die vroeë kinderontwikkeling akademie gee broodnodige intervensie vir 28 lyfies deur middel van 4 onderwysers en vrywilligers. Dit hou die kinders van die strate af waar hulle blootgestel is aan gevaar en leer hulle die broodnodige vaardighede om hul plek in die samelewing te vind. So ondersteun die sentrum ook die polisie wat geensins die taak alleen kan verrig nie.

b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_140035.jpg     b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_140610.jpg

Rekenaarklasse word aangebied om jong, werklose mense die geleentheid te bied om nuwe vaardighede aan te leer en daar is tot ‘n groentetuin aangeplant wat weer help om bestandele aan die kombuis te voorsien.

b2ap3_thumbnail_unnamed.jpg b2ap3_thumbnail_IMG_20180814_152237.jpg

Die vrywilligers vertel hoe hulle deelgemaak is van hierdie projek toe hulle as nuwe intrekkers die dorp binnegekom het en hoe lekker dit vir hulle is om ‘n verskil te kan maak. Die vroeë intervensie dienste wat hier gelewer word, verlig baie maatskaplike probleme en dra by tot stabiliteit. ‘n Plaaslike inwoner het nou ook na vore getree en sy maatskappy betrokke gekry om ‘n ruim donasie te maak vir hierdie sentrum wat alle dienste GRATIS aanbied.

Ek dink aan die stede en die talle maatskaplike euwels en hoe almal totaal en al verby mekaar leef, elkeen net gefokus op sy eie bestaan en sy eie probleme, en ek besef hierdie model is dalk die antwoord.

Want só, deur die liefde van die inwoners van Stilbaai vir hul naaste, ‘n skeutjie genade, ‘n druppel omgee en sommer baie barmhartigheid, het hierdie dorp ‘n ware gemeenskap geword.